Ou Testament

Nuwe Testament

1 Petrus 3:8-22 Die Boodskap (DB)

8. Vir julle almal kom dit hierop neer: moenie dwarstrekkerig wees en elkeen sy eie kop volg nie. Wees sensitief vir mekaar se gevoelens. Soos jy jou eie broer of suster liefhet, moet julle mekaar liefhê. Gee vir mekaar om en moenie te veel van jouself dink ten koste van ander nie.

9. As iemand lelik teenoor jou optree, moet jy nie op jou beurt lelik wees nie. Hou jou skerp tong in, al beledig iemand jou. God het julle die spesiale opdrag gegee om liewer mooi te praat van ander mense en om God te vra om vir hulle goed te wees. As julle dit doen, sal julle ook van God al die goeie dinge kry wat Hy beloof het.

10. Daar staan mos geskryf:“Wie van die lewe hou en die beste daaruit wil haal, moet ’n wag voor sy mond sit. Hy moet nie lelik praat of hom met allerhande liegstories ophou nie.

11. Hy moet wegbly van alles wat verkeerd is en elke kans aangryp om die goeie te doen.“Bewaar altyd die vrede; dit moet julle lewenstyl wees, want die Here sorg vir die mense wat reg leef en Hy luister graag wanneer hulle met Hom in gebed praat. “Die Here dink niks van mense wat hulle heeltyd met verkeerde dinge ophou nie.”

12-13. As julle regtig probeer om goed te leef, sal mense julle gewoonlik nie sleg behandel nie.

14. Maar as julle moet swaarkry juis omdat julle doen wat reg is, is julle eintlik gelukkig. Moet net nie vir mense bang word en die kluts kwytraak nie.

15. Julle moet eerder wys dat daar in julle lewe net vir Een plek is, naamlik vir Christus, die Here. As iemand julle uitvra oor die dinge wat God julle beloof het en waarna julle so uitsien, gryp die kans aan. Vertel hulle daarvan.

16. Doen dit mooi, met eerbied vir God, sonder om windmakerig te wees. Sorg dat julle altyd doen wat julle weet reg is. Dit sal die mense wat so lelik van julle praat omdat julle Christelik optree, belaglik maak, juis omdat hulle julle probeer swartsmeer.

17. As God dit toelaat dat ongelowige mense julle sleg behandel, is dit darem baie beter dat hulle dit doen omdat julle goed en reg optree, soos Christene behoort op te tree, eerder as dat hulle julle so behandel omdat julle julle sleg gedra.

18. Dit het met Jesus ook gebeur. Self het Hy niks verkeerds gedoen nie, maar Hy moes vir altyd vir ander se verkeerde optrede sterf. Die Een wat niks verkeerds gedoen het nie, moes so vir al die verkeerde dinge van ander betaal. So het Hy dit egter vir ons reggekry om by God uit te kom. Sy menslike liggaam is wel doodgemaak, maar die Gees het Hom lewendig gemaak.

19. Deur die Gees is Hy na die geeste toe wat opgesluit is en wag vir die oordeel. Vir hulle het Hy gaan vertel dat Hy gewen het en leef. Weet julle wie is hierdie geeste?

20. Dit is die mense wat lank terug in Noag se tyd geleef het. God was destyds darem baie geduldig met daardie mense. God het hulle ’n unieke kans gegee terwyl Noag sy skip gebou het. Tog wou hulle nie hoor nie. Hulle het maar aangehou om hulle nie aan God te steur nie. Uiteindelik, toe die reën begin uitsak, is daar net ’n handjie vol mense die skip in, agt in totaal. Hulle was toe die enigstes wat uit daardie groot vloed gered is.

21. Hierdie dinge is eintlik vir ons ’n voorbeeld van wat op geestelike gebied by die doop gebeur. Daar skei die paaie van die mense wat gered word en dié wat nie gered word nie. Dit gaan nie oor vuilgoed wat die water van jou liggaam afwas nie. Dit gaan eerder oor dit wat binne-in jou gebeur. Dit gaan daaroor dat jy God opreg vra om alles weg te vat wat jou skuldig laat voel. Dit is moontlik omdat Jesus uit die graf opgestaan het en leef.

22. Hy is na God toe en daar sit Hy op die ereplek direk langs God. Van daar heers Hy oor alles en almal. Selfs die onsigbare magte en die engele staan onder sy gesag.

Lees volledige hoofstuk 1 Petrus 3