Ou Testament

Nuwe Testament

1 Korintiërs 6:3-10 Die Boodskap (DB)

3. Ons gaan selfs eendag die hemelse wesens oordeel. As dit so is, behoort ons regtig darem ook in staat te wees om vir die alledaagse probleme wat nou hier onder ons opduik, ’n goeie oplossing te vind.

4. As julle dan met mekaar vassit, waarom hardloop julle na regters toe wat nie eens in die gemeente is nie? Hoe is dit moontlik om so ’n persoon te vertrou met wat reg of verkeerd is?

5. Ek sê dit om julle ’n bietjie wakker te skud sodat julle kan sien wat julle besig is om te doen. Wil julle sowaar vir my sê dat daar nie ’n enkele persoon onder julle is wat verstandig genoeg is om julle te help om julle probleme onder mekaar op te los nie?

6. Kyk net wat vang julle nou aan. Een Christen sleep ’n ander Christen voor die hof en dit nog voor mense wat glad nie in God glo nie.

7. Wat sê julle nou eintlik met hierdie hofsake wat julle so teen mekaar voer? Julle sê eintlik dat julle ’n klomp verloorders is. Nie een van julle kan ’n wenner in so ’n saak wees nie. Hoekom is julle nie maar bereid om die minste te wees of selfs maar aan die kortste ent te trek ter wille van die groter saak van julle Christenskap nie?

8. Maar kyk wat vang julle aan. Julle is die skuldiges. Dit is julle wat ander mense seermaak en aan die kortste ent laat trek deur verkeerde dinge aan hulle te doen. En dit doen julle nogal aan die mense wat saam met julle op die kerkbanke sit.

9. Besef julle nie dat dit nie die manier is om julle te gedra nie? Iemand wat nie wil leef soos God dit wil hê nie, is nie welkom in sy nuwe wêreld nie. Moenie julleself om die bos lei nie. Mense wat seks misbruik, of wat seks met persone van dieselfde geslag het, mense wat hulle nie steur aan die reëls van die huwelik nie, wat agter allerhande valse gode aanloop en wat ander se goed vat, sal nooit die binnekant van God se nuwe wêreld sien nie.

10. Die lysie gaan aan: dieselfde geld ook vir mense wat nooit genoeg kry nie en altyd net al hoe meer wil hê, wat drank hulle god gemaak het, wat net lieg en bedrieg vir eie gewin of wat dit geniet om lelik van ander te praat.

Lees volledige hoofstuk 1 Korintiërs 6