Ou Testament

Nuwe Testament

Rigters 18:1-10 Bybel vir Almal (ABA)

1. In daardie tyd was daar nie ’n koning in die land Israel nie. Die Dan-stam het vir hulle ’n ander plek gesoek om te woon. Hulle het dit gedoen omdat hulle nie ’n plek gekry het wat hulle eie was tussen die ander stamme van Israel nie.

2. Die Dan-mense het vyf mans uit verskillende families en plekke gekies en hulle het die mans gestuur om deur die land te gaan en te kyk waar hulle kan woon. Dit was belangrike mans. Die Dan-mense het vir hulle gesê hulle moet gaan kyk waar hulle kan woon. Die vyf mans het weggegaan uit die stede Sora en Estaol en hulle het in die Efraim-berge by Miga se huis gekom. Hulle wou daar slaap.

3. Toe hulle by Miga se huis kom, het hulle die jongman, die Leviet, gehoor praat. Hulle het na hom toe gegaan en vir hom gevra: “Wie het jou hiernatoe gebring en wat doen jy hier? Hoekom is jy hier?”

4. Die jongman het vir hulle gesê Miga het hom gehuur en hy is Miga se priester.

5. Hulle sê toe vir hom: “Vra asseblief wat God wil hê ons moet doen. Ons wil weet of dit goed sal gaan met ons waar ons gaan.”

6. Die priester het dit gedoen en vir hulle gesê: “Dit sal goed gaan met julle, die Here sal vir julle wys waarnatoe julle moet gaan.”

7. Die vyf mans het toe gegaan en hulle het by die stad Lajis gekom. Daar het hulle gesien die mense is oor niks bekommerd nie, hulle dink hulle woon veilig, soos die Sidon-mense altyd gedink het. Hulle het gedink ander mense sal hulle nie aanval nie en hulle het alles gehad wat hulle nodig gehad het. Hulle was ver van die stad Sidon, maar niemand het hulle probeer aanval en verdruk nie. Niemand het iets van hulle geweet nie.

8. Die vyf mans het toe teruggegaan na hulle mense in Sora en Estaol. Hulle mense het vir hulle gevra: “Wat het julle gesien?”

9. Die vyf mans het gesê: “Kom, ons moet gaan. Ons het ’n land gesien wat baie goed is. Maar julle moet gou maak. Julle moenie wag nie! Gaan dadelik en gaan vat daardie land.

10. Julle sal daar kom by mense wat dink ander mense sal hulle nie aanval nie. En die land is oop na al die kante toe. God wil vir julle ’n land gee waar daar genoeg is van alles.”

Lees volledige hoofstuk Rigters 18