Ou Testament

Nuwe Testament

Numeri 28:6-18 Bybel vir Almal (ABA)

6. Dit is die brand-offer wat julle elke dag moet bring, julle doen dit vandat julle by Sinai-berg was. Dit ruik lekker vir My, die Here, dit is ’n vuur-offer vir My.

7. Saam met die brand-offer moet julle ook ’n drank-offer gee. Die drank-offer is ’n kwart hin wyn wat julle vir die Here by die tempel moet uitgooi op die altaar.

8. Wanneer dit begin donker word, dan moet julle die tweede lam offer saam met die koring-offer en die drank-offer, julle moet dit offer soos in die oggend. Dit is ’n vuur-offer, dit ruik lekker vir My, die Here.”

9. Die Here het vir Moses gesê: “Op die Sabbatdag moet julle twee gesonde jaaroud ram-lammers offer. Julle moet dit offer saam met twee tiendes van ’n efa van die beste meel wat julle met olyf-olie moet meng, en saam met die drank-offer wat julle saam met die lammers moet offer.

10. Dit is die brand-offers wat julle elke Sabbatdag moet bring, saam met die brand-offers wat julle elke dag moet bring en die drank-offers wat julle saam met die brand-offers moet bring.”

11. Die Here het vir Moses gesê: “Op die eerste dag van elke maand moet julle vir die Here twee jong bulle, een skaap-ram en sewe ram-lammers gee. Dit moet gesonde diere wees.

12. Saam met elke bul moet julle ’n koring-offer gee. Die koring-offer is drie tiendes van ’n efa van die beste meel wat julle moet meng met olyf-olie. Saam met die ram moet julle ’n koring-offer van twee tiendes van ’n efa van die beste meel gee wat julle moet meng met olyf-olie.

13. Saam met elke lam moet julle ’n koring-offer van een tiende van ’n efa van die beste meel gee wat julle moet meng met olyf-olie. Dit is ’n brand-offer, ’n vuur-offer wat lekker ruik vir die Here.

14. Die drank-offer saam met ’n bul moet ’n halwe hin wyn wees. Die drank-offer saam met ’n ram moet een derde van ’n hin wees, en die drank-offer saam met ’n lam moet ’n kwart hin wees. Dit is die brand-offer wat julle elke maand van die jaar moet bring.

15. Julle moet daarmee saam ook ’n bok-ram gee om ’n sonde-offer te wees. Julle moet hierdie offers bring saam met die brand-offers wat julle elke dag moet bring en die drank-offers wat julle saam met die brand-offers moet bring.”

16. Die Here het vir Moses gesê: “Op die veertiende dag van die eerste maand is dit die Paasfees vir die Here,

17. en op die vyftiende dag van dieselfde maand begin die fees van sewe dae wanneer julle ongesuurde brood moet eet.

18. Op die eerste dag moet julle bymekaarkom en julle moet julleself wy. Julle mag nie werk op daardie dag nie.

Lees volledige hoofstuk Numeri 28