Ou Testament

Nuwe Testament

Numeri 28:1-14 Bybel vir Almal (ABA)

1. Die Here het vir Moses gesê:

2. “Jy moet vir die Israeliete sê hulle moet my offers vir My gee op die tyd wat Ek sê, die offers wat Ek moet kry. Dit is kos vir My, dit is vuur-offers, dit ruik lekker vir My.

3. “Jy moet vir hulle sê hulle moet elke dag vir My hierdie vuur-offer bring: twee gesonde jaaroud ram-lammers. Dit is ’n brand-offer wat hulle elke dag moet bring.

4. Julle moet een lam in die oggend offer en die ander lam wanneer dit begin donker word.

5. Hulle moet saam met hierdie vuur-offer ook ’n koring-offer bring. Die koring-offers is een tiende van ’n efa van die beste meel wat julle moet meng met ’n kwart hin olyf-olie wat uit die parskuip kom.

6. Dit is die brand-offer wat julle elke dag moet bring, julle doen dit vandat julle by Sinai-berg was. Dit ruik lekker vir My, die Here, dit is ’n vuur-offer vir My.

7. Saam met die brand-offer moet julle ook ’n drank-offer gee. Die drank-offer is ’n kwart hin wyn wat julle vir die Here by die tempel moet uitgooi op die altaar.

8. Wanneer dit begin donker word, dan moet julle die tweede lam offer saam met die koring-offer en die drank-offer, julle moet dit offer soos in die oggend. Dit is ’n vuur-offer, dit ruik lekker vir My, die Here.”

9. Die Here het vir Moses gesê: “Op die Sabbatdag moet julle twee gesonde jaaroud ram-lammers offer. Julle moet dit offer saam met twee tiendes van ’n efa van die beste meel wat julle met olyf-olie moet meng, en saam met die drank-offer wat julle saam met die lammers moet offer.

10. Dit is die brand-offers wat julle elke Sabbatdag moet bring, saam met die brand-offers wat julle elke dag moet bring en die drank-offers wat julle saam met die brand-offers moet bring.”

11. Die Here het vir Moses gesê: “Op die eerste dag van elke maand moet julle vir die Here twee jong bulle, een skaap-ram en sewe ram-lammers gee. Dit moet gesonde diere wees.

12. Saam met elke bul moet julle ’n koring-offer gee. Die koring-offer is drie tiendes van ’n efa van die beste meel wat julle moet meng met olyf-olie. Saam met die ram moet julle ’n koring-offer van twee tiendes van ’n efa van die beste meel gee wat julle moet meng met olyf-olie.

13. Saam met elke lam moet julle ’n koring-offer van een tiende van ’n efa van die beste meel gee wat julle moet meng met olyf-olie. Dit is ’n brand-offer, ’n vuur-offer wat lekker ruik vir die Here.

14. Die drank-offer saam met ’n bul moet ’n halwe hin wyn wees. Die drank-offer saam met ’n ram moet een derde van ’n hin wees, en die drank-offer saam met ’n lam moet ’n kwart hin wees. Dit is die brand-offer wat julle elke maand van die jaar moet bring.

Lees volledige hoofstuk Numeri 28