Ou Testament

Nuwe Testament

Numeri 18:4-12 Bybel vir Almal (ABA)

4. Die Leviete moet by jou wees en hulle moet die werk doen by die tent waar die Here aan die Israeliete verskyn, hulle moet help met al die werk by die tent. Niemand anders mag naby julle kom nie.

5. Julle self moet die werk by die tempel-tent en die altaar doen. Dan sal Ek nie weer kwaad word vir die Israeliete nie.

6. Ek self het julle familie, die Leviete, weggeneem tussen die Israeliete. Ek het hulle vir My geneem om die werk te doen by die tent waar Ek aan die Israeliete verskyn. Ek gee die Leviete vir julle om julle te help.

7. Maar jy en jou seuns moet die priesters wees wat die werk doen by die altaar en in die kamer agter die gordyn. Ek gee daardie werk vir julle. Maar wanneer iemand anders daardie werk doen, dan sal hy sterf.”

8. Die Here het vir Aäron gesê: “Ek self het vir jou gesê jy moet kyk dat mense die regte offers vir My bring. Ek gee van nou af vir jou al die gewyde presente wat die Israeliete vir My bring. Dit sal altyd aan jou en jou seuns behoort, dit is wat julle moet kry.

9. Jy moet die deel van die hoog-gewyde offers kry wat julle nie verbrand nie, dit is al die koring-offers, al die sonde-offers, al die skuld-offers. Dit is al die hoog-gewyde offers wat die Israeliete vir My bring. Jy en jou seuns moet dit kry.

10. Dit is hoog-gewyde dinge, maar julle mag dit eet. Elke man of seun in jou familie mag dit eet. Dit moet vir julle gewyde dinge wees.

11. Elke beweeg-offer wat die Israeliete vir My gee, is ook joune. Ek gee dit vir jou en jou seuns en jou dogters saam met jou. Dit moet altyd so wees. Elkeen in jou huisgesin wat rein is, mag daarvan eet.

12. Wanneer die Israeliete van die eerste olyf-olie, wyn en koring vir My bring, dan gee Ek vir jou die beste daarvan.

Lees volledige hoofstuk Numeri 18