Ou Testament

Nuwe Testament

Nehemia 9:15-28 Bybel vir Almal (ABA)

15. Toe hulle honger was, het U vir hulle kos gegee uit die hemel, en toe hulle dors was, het U vir hulle water uit ’n rots laat kom. U het vir hulle gesê hulle moet kom en hulle moet die land vat wat U vir hulle belowe het.

16. “Maar hulle, ons voorvaders, was opstandig en hardkoppig, hulle het nie gedoen wat U wil hê nie.

17. Hulle was ongehoorsaam, hulle het nie die wonderwerke onthou wat U gedoen het nie. Hulle was hardkoppig, hulle was opstandig, hulle wou teruggaan om weer slawe te wees.“Maar U is God, U vergewe mense se sondes, U is genadig, U is goed vir mense wat swaarkry, U is geduldig, U doen altyd wat U belowe het. U het hulle nie gelos nie.

18. U het hulle ook nie gelos toe hulle vir hulle ’n kalfbeeld gemaak het en vir U beledig het nie. Hulle het gesê die kalf is die god wat vir hulle uit die land Egipte gebring het.

19. U was goed vir hulle toe hulle swaargekry het, U het hulle nie gelos in die woestyn nie. Die wolk het daar gebly om hulle in die dag te lei op die pad, en die vuur het in die nag lig gemaak op die pad waar hulle moes gaan.

20. U het u goeie Gees vir hulle gegee om vir hulle te leer, U het aangehou om vir hulle manna te gee om te eet, en water om te drink.

21. U het 40 jaar lank vir hulle gesorg in die woestyn, hulle het genoeg gehad van alles. Hulle klere het nie stukkend geword nie en hulle voete het nie geswel nie.

22. U het vir hulle lande en volke gegee. Hulle kon alles vir hulle vat, die land Gesbon van koning Sihon, en die land Basan van koning Og.

23. U het vir hulle so baie kinders gegee soos die sterre in die lug. U het vir hulle voorvaders gesê hulle kinders sal die land vir hulle kom vat,

24. en die kinders hét die land kom vat. U het die mense van die land, die Kanaäniete, laat buig voor u volk. U volk het die Kanaäniete en hulle konings oorwin, hulle het gedoen wat hulle wil met die mense van die land.

25. Hulle het die stede oorwin wat sterk mure gehad het en hulle het die vrugbare grond vir hulle gevat. Hulle het huise gevat wat vol kosbare goed was, ook watergate wat die mense in die rots gekap het, wingerde, olyfbome en baie vrugtebome. Hulle kon eet totdat hulle genoeg gehad het, hulle het vet geword. Hulle het die goeie dinge geniet wat U gegee het.

26. “Maar hulle was hardkoppig, hulle was opstandig teen U. Hulle wou nie doen wat U wil hê nie. U profete het hulle gewaarsku en het gesê hulle moet terugkom na U toe, maar hulle het die profete doodgemaak. Hulle het vir U beledig.

27. “U het hulle vyande laat wen teen hulle, die vyande het hulle laat swaarkry. En toe hulle swaarkry, het hulle na U geroep en gevra dat U hulle moet help. U was in die hemel en U het geluister. U is altyd goed vir mense wat swaarkry. Daarom het U mense gestuur wat hulle gered het van hulle vyande.

28. Maar toe hulle al hulle vyande oorwin het, het hulle weer verkeerde dinge gedoen. U het hulle vyande laat wen teen hulle, en die vyande het oor hulle regeer. Hulle het weer na U geroep en gevra dat U hulle moet help. U was in die hemel en U het geluister, U het hulle gered, want U is goed vir mense wat swaarkry. U het dit baie maal gedoen.

Lees volledige hoofstuk Nehemia 9