Ou Testament

Nuwe Testament

Nehemia 9:1-11 Bybel vir Almal (ABA)

1. Die Israeliete het op die 24ste dag van die sewende maand bymekaargekom. Hulle het gevas en rouklere aangetrek en grond op hulle koppe gegooi.

2. Die Israeliete het apart gegaan, weg van almal wat nie Israeliete was nie. Die Israeliete het voor die Here gaan staan en hulle het bely dat hulle sonde gedoen het en dat hulle voorvaders verkeerd gedoen het.

3. Hulle het op hulle plekke bly staan en hulle het drie uur lank uit die wetboek van hulle God gelees. Toe het hulle drie uur lank hulle sonde bely en voor hulle God die Here gebuig.

4. Jesua, Bani, Kadmiël, Sebanja, Bunni, Serebja, Bani en Kenani het op die verhoog van die Leviete gaan staan en hulle het hard geskree en gevra dat hulle God die Here hulle moet help.

5. Die Leviete Jesua, Kadmiël, Bani, Gasabneja, Serebja, Hodija, Sebanja en Petagja het gesê: “Kom, julle moet julle God die Here prys, julle moet nooit ophou om dit te doen nie.”Hulle het u Naam geprys, Here, U wat Koning is, hulle het die Naam geprys, die Naam is so wonderlik dat daar nie woorde is om dit waarlik te prys en te loof nie.

6. Hulle het gesê:“U is die Here, U alleen, U het die hemel gemaak, ook die hoogste hemel, en al die sterre in die lug. U het die aarde gemaak en alles daarop, die see en alles daarin. U het lewe gegee vir almal, die sterre in die lug aanbid U.

7. U is ons God die Here, U het vir Abram gekies en U het hom gebring uit die stad Ur van die Galdeërs, U het vir hom die naam Abraham gegee.

8. U het gesien dat hy vir U glo, en U het ’n verbond gemaak met hom. U het belowe om vir hom en sy nageslag die land te gee, die land van die Kanaäniete, die Hetiete, die Amoriete, die Feresiete, die Jebusiete, die Girgasiete. U het gedoen wat U belowe het, want U doen altyd wat reg is.

9. “U het gesien dit gaan sleg met ons voorvaders in Egipte. U het geluister toe hulle na U geroep het by die Riet-see en gevra het dat U hulle moet help.

10. U het geweet dat die farao en al sy amptenare en al die mense in sy land slegte dinge gedoen het aan ons voorvaders, en U het tekens en wonderwerke gedoen by hulle. Almal moes weet wie U is en almal moet nóú weet wie U is.

11. U het ’n pad gemaak deur die see sodat ons voorvaders op droë grond daar kon deurloop, maar U het die mense wat vir hulle gevolg en gejaag het, in die water gegooi. Hulle het soos ’n klip in diep water gesink.

Lees volledige hoofstuk Nehemia 9