Ou Testament

Nuwe Testament

Nehemia 5:10-19 Bybel vir Almal (ABA)

10. Ek en my broers en my manne het ook vir hierdie mense geld en koring geleen. Ons moet nou vergeet dat hulle vir ons iets skuld.

11. Julle moet asseblief vandag hulle koringlande, hulle wingerde, hulle olyfboorde en hulle huise teruggee. Julle moet sê hulle moenie die geld en die koring en die olyf-olie teruggee wat hulle vir julle skuld nie.”

12. Hulle het gesê: “Ons sal dit teruggee en ons sal nie vir hulle nog iets vra nie. Ons sal doen wat jy sê.”Ek het die priesters geroep. Hulle almal moes belowe dat hulle sal doen wat hulle gesê het, en dat God die getuie sal wees.

13. Ek het ook my bo-kleed geskud en alles uitgegooi wat ek daarin gebêre het. Ek het gesê: “Ek bid dat God dieselfde sal doen met elke man wat nie doen wat hy belowe het nie. Ek bid dat God hom so sal uitskud uit sy huis en uit alles wat hy het, sodat hy niks sal hê nie.”Die volksvergadering het gesê: “Amen!”En hulle het die Here geprys. Almal het gedoen wat hulle belowe het.

14. Almal moet ook weet dat ek en my broers nie die geld gevra het wat ’n goewerneur moet kry om kos te koop nie. Dit was so van die dag toe die koning my gekies en aangestel het om goewerneur van Juda te wees. Dit was twaalf jaar lank, van die 20ste tot die 32ste jaar wat Artasasta koning was.

15. Die goewerneurs wat voor my hier was, het die mense laat swaarkry. Hulle het elke dag brood en wyn van elke persoon gevat. Die brood en wyn het 40 sikkels silwer gekos. En die manne wat vir die goewerneurs gewerk het, het ook die mense baie swaar laat kry. Maar ek het dit nie gedoen nie, want ek het die Here gerespekteer.

16. Almal moet ook weet dat ek al my krag gegee het vir die werk om hierdie muur te bou. Ek het nie grond gekoop nie, en die manne wat vir my werk, het almal gehelp om die muur te bou.

17. Daar het 150 persone van die Judeërs en hulle leiers by my geëet, en ook mense van die volke rondom ons wat na ons toe gekom het.

18. Ek het elke dag ’n bees en ses vet skape laat slag en ek het ook hoenders laat gaarmaak, en elke tiende dag het ek ook baie wyn vir almal gegee. Maar ek het nie die geld gevra wat ’n goewerneur kon kry om kos te koop nie, want hierdie volk moes hard werk.

19. My God, U moet goed wees vir my omdat ek al hierdie dinge gedoen het vir hierdie volk.

Lees volledige hoofstuk Nehemia 5