Ou Testament

Nuwe Testament

Maleagi 3:10-18 Bybel vir Almal (ABA)

10. Die Here wat oor alles regeer, sê: “Julle moet al julle tiendes na die tempel bring sodat daar kos in my tempel kan wees. Julle moet My toets en kyk of Ek julle sal seën. Ek sal die vensters van die hemel oopmaak en vir julle baie reën gee, meer as genoeg.

11. Ek sal die sprinkane wegjaag sodat hulle nie meer julle koring opvreet nie, en die druiwe in julle wingerde sal nie meer afval nie.”Dit sê die Here wat oor alles regeer.

12. “Al die volke sal dink dat julle gelukkige mense is, want julle sal ’n wonderlike land hê. Die ander mense sal graag julle land wil hê.”Dit sê die Here wat oor alles regeer.

13. Die Here sê: “Julle het lelike dinge van My gesê. Maar julle vra: ‘Wat het ons van U gesê?’

14. Julle het gesê: ‘As ’n mens vir God dien, dan help dit niks. Het dit gehelp toe ons gehoorsaam was en alles gedoen het wat God gesê het? Nee. Het dit gehelp toe ons gewys het ons is jammer oor wat ons gedoen het en toe ons geloop het soos mense wat by ’n begrafnis treur? Nee. Dit het ons gedoen vir die Here wat oor alles regeer.

15. Nou dink ons die hoogmoedige mense is gelukkig, ons dink dit gaan goed met die mense wat verkeerd doen. Hulle is opstandig teen God en God straf hulle nie.’ ”

16. Die mense wat die Here eer, het toe daaroor met mekaar gepraat, en die Here het gehoor wat hulle sê. Daar was ’n boek voor die Here. Hy het in die boek al die name geskryf van die mense wat Hom eer.

17. Die Here wat oor alles regeer, sê: “Hierdie mense sal Myne wees op daardie dag wanneer Ek doen wat Ek wil doen. Hulle sal aan My behoort. Ek sal hulle nie straf nie, soos ’n pa sy seun nie straf as hy gehoorsaam is aan hom nie.

18. Dan sal julle sien wie doen reg en wie doen verkeerd, julle sal sien wie dien God en wie dien Hom nie.”

Lees volledige hoofstuk Maleagi 3