Ou Testament

Nuwe Testament

Levitikus 7:12-30 Bybel vir Almal (ABA)

12. As hy offer om vir die Here dankie te sê, dan moet hy saam met die dank-offer ook ongesuurde rondebrood van meel offer. Hy moet dit meng met olyf-olie, ongesuurde roosterkoek waarop hy olyf-olie gesmeer het, en rondebrood van die beste meel wat hy gemeng het met olyf-olie.

13. Saam met die dank-offer, sy ete-offer, moet hy ook ’n offer bring van rondebrood wat hy met suurdeeg gebak het.

14. Hy moet ’n deel van alles wat hy offer, vir die Here present gee. Die priester wat die bloed van die ete-offers sprinkel, moet dit kry.

15. Die persoon wat die offer bring en sy mense moet die vleis vir die dank-offer, die ete-offer, op-eet op die dag wanneer hy dit bring. Daar mag niks oorbly tot die volgende dag nie.

16. As hy offer omdat hy ’n gelofte gemaak het of omdat hy self besluit het om ’n offer te bring, dan eet hulle die vleis op die dag wanneer hy die offer bring, maar as daar vleis oorbly, dan mag hulle dit die volgende dag eet.

17. As daar dan nog vleis oorbly tot die derde dag, dan moet hulle dit verbrand.

18. As iemand op die derde dag van die vleis eet, dan sal die Here nie die offer aanvaar nie. Dit sal wees soos wanneer die persoon nie ’n offer gebring het nie. Die Here sal dit haat, en Hy sal die persoon straf wat die vleis eet.

19. Niemand mag vleis eet wat geraak het aan iets wat onrein is nie, hulle moet die vleis verbrand. Iemand wat rein is, mag vleis eet wat rein is.

20. As iemand onrein is en hy eet saam by die offer-ete, dan moet julle hom afsny van sy volk.

21. Iemand raak miskien aan iets wat onrein is, dit is miskien ’n mens of ’n dier wat onrein is, of iets anders wat die Here haat. As die persoon dan van die vleis eet wat aan die Here behoort, die vleis van die ete-offer, dan moet julle hom afsny van sy volk.”

22. Die Here het vir Moses gesê:

23. “Jy moet vir die Israeliete sê: Julle mag nooit vet van ’n bees of ’n skaap of ’n bok eet nie.

24. Wanneer ’n dier gevrek het, of wanneer ’n wilde dier dit doodgemaak het, dan mag julle die vet gebruik vir julle werk, maar julle mag glad nie die vet eet nie.

25. Ja, julle moet enige iemand afsny van sy volk wanneer hy die vet eet van ’n dier wat iemand vir die Here op die altaar ge-offer het.

26. “Julle mag ook nooit bloed eet nie, oral waar julle woon, nie ’n voël se bloed nie en ook nie ’n dier se bloed nie.

27. Julle moet enige iemand wat bloed eet, afsny van sy volk.”

28. Die Here het vir Moses gesê:

29. “Jy moet vir die Israeliete sê: Wanneer iemand vir die Here ’n ete-offer bring, dan moet hy ’n deel van die vleis vir die Here offer.

30. Hy moet self die vet en die bors van die dier vir die Here gee. Die bors moet ’n beweeg-offer vir die Here wees.

Lees volledige hoofstuk Levitikus 7