Ou Testament

Nuwe Testament

Levitikus 6:16-27 Bybel vir Almal (ABA)

16. Aäron en sy seuns moet die meel eet wat oorbly. Hulle moet ongesuurde brood daarvan bak en hulle moet dit op ’n gewyde plek eet, op die oop stuk grond by die tempel.

17. Hulle mag nie die brood met suurdeeg bak nie. Dit is wat die priesters moet kry van die vuur-offers. Dit is hoog-gewyd, soos die sonde-offer en die skuld-offer.

18. Elke man en seun van die nageslag van Aäron mag hierdie brood eet, hy en sy nageslag. Dit kom uit die vuur-offers vir die Here. Alles wat daaraan raak, word gewyd.”

19. Die Here het vir Moses gesê:

20. “Op die dag wanneer jy vir Aäron salf, moet hy en sy seuns hierdie offer vir die Here gee: een tiende van ’n efa van die beste meel. Hulle moet altyd hierdie offer bring, die helfte van die offer in die oggend en die helfte van die offer in die aand.

21. Hy moet die meel met olyf-olie meng en hy moet dit op ’n bakplaat bak. Dan moet hy die brood in stukkies breek en hy moet dit vir die Here gee. Dit is ’n koring-offer wat lekker ruik vir die Here.

22. Jy moet ’n priester van die nageslag van Aäron salf om hoëpriester te wees. Hy moet altyd die koring-offer offer. Die offer behoort aan die Here, dit moet heeltemal verbrand word.

23. Elke koring-offer van ’n priester moet heeltemal verbrand word. Hulle mag dit nie eet nie.”

24. Die Here het vir Moses gesê:

25. “Jy moet vir Aäron en sy seuns sê wat hulle met die sonde-offer moet doen. Hulle moet die dier wat die sonde-offer moet wees, voor die Here slag op dieselfde plek waar hulle die diere vir die brand-offer slag. Die sonde-offer is hoog-gewyd.

26. Die priester wat die dier offer om ’n sonde-offer te wees, moet die vleis eet op ’n gewyde plek, op die oop stuk grond by die tent waar die Here aan die Israeliete verskyn.

27. Elkeen wat aan die dier se vleis raak, word gewyd. Wanneer van die dier se bloed op iemand se klere spat, dan moet jy die klere op ’n gewyde plek was.

Lees volledige hoofstuk Levitikus 6