Ou Testament

Nuwe Testament

Levitikus 26:33-43 Bybel vir Almal (ABA)

33. Ek sal julle oral in ander lande laat woon. Ek sal oorlog bring teen julle, en daar sal niemand in julle land woon nie, julle stede sal hope klippe wees.

34. Wanneer daar nie meer mense in die land is nie, en wanneer julle in die land van julle vyande is, dan sal die land kan rus en die land sal sy Sabbatsjare geniet.

35. Die land sal die hele tyd rus wanneer daar nie mense woon nie. Die land het nie gerus op julle Sabbatdae toe julle daar gewoon het nie.

36. Die paar mense wat nog lewe, sal baie bang wees in die land van hulle vyande. Hulle sal vlug wanneer hulle ’n blaar hoor wat val, hulle sal vlug soos hulle in oorlog sal vlug, hulle sal ook vlug wanneer niemand hulle jaag nie.

37. Hulle sal oor mekaar val soos in ’n oorlog, ook wanneer niemand hulle jaag nie. Julle sal nie sterk genoeg wees om teen julle vyande te veg nie.

38. Julle sal verdwyn tussen die volke, die land van julle vyande sal julle opvreet.

39. Die paar mense wat nog lewe, sal sterf en verdwyn oor hulle sondes in die land van hulle vyande. Hulle sal ook sterf en verdwyn oor die sondes van hulle voorvaders.

40. Miskien sal hulle bely dat hulle en hulle voorvaders sonde gedoen het, en dat hulle ontrou en opstandig was teen My.

41. Miskien sal hulle dan weet dat Ek hulle vyand geword het en dat Ek hulle na die land van hulle vyande gebring het. Miskien sal hulle jammer wees dat hulle soos heidene gelewe het en miskien sal hulle sê dat hulle die straf oor hulle sondes sal dra.

42. Dan sal Ek onthou dat Ek ’n verbond gemaak het met Jakob, Isak en Abraham, en met die land.

43. Maar die land sal eers alleen moet wees, daar sal nie mense woon nie, sodat die land sy Sabbatsjare kan geniet. My volk moet eers sê dat hulle die straf oor hulle sondes sal dra, want hulle het gewys dat dit nie vir hulle belangrik is om te doen wat Ek besluit nie, dit was vir hulle te moeilik om te doen wat Ek sê.

Lees volledige hoofstuk Levitikus 26