Ou Testament

Nuwe Testament

Levitikus 23:18-30 Bybel vir Almal (ABA)

18. Saam met die brode moet julle sewe gesonde jaaroud ram-lammers bring en ook een jong bul en twee skaap-ramme, dit is ’n brand-offer vir die Here. Julle moet ook die koring-offers en die drank-offers bring wat daarby moet wees. Dit is vuur-offers, dit ruik lekker vir die Here.

19. Julle moet ook ’n bok-ram bring om ’n sonde-offer te wees, en twee jaaroud ram-lammers om ete-offers te wees.

20. Die priester moet hulle heen en weer beweeg saam met die brode van die eerste koring-oes. Saam met die twee lammers is dit ’n beweeg-offer voor die Here. Dit is aan die Here gewy, en die priester moet dit kry.

21. Julle moet op dieselfde dag bymekaarkom en julle moet julleself wy. Julle mag nie die werk doen wat julle altyd doen nie. Julle en julle nageslag moet dit altyd so doen, oral waar julle woon.

22. Wanneer julle die koring en die gars op julle lande afsny, dan moet julle nie alles afsny tot op die kant van die land nie. Julle moet ook nie die are optel wat val nie. Julle moet dit los vir die arm mense en vir die vreemdelinge. Ek is julle God die Here.”

23. Die Here het vir Moses gesê:

24. “Jy moet vir die Israeliete sê: Julle moet op die eerste dag van die sewende maand ’n spesiale Sabbatdag vier. Julle moet bymekaarkom en julle moet julleself wy. Julle moet ramshorings blaas en julle moet skree.

25. Julle mag nie die werk doen wat julle altyd doen nie en julle moet vir die Here ’n vuur-offer bring.”

26. Die Here het vir Moses gesê:

27. “Op die tiende dag van hierdie sewende maand, is dit Versoendag, dit is net op hierdie een dag. Julle moet bymekaarkom en julle moet julleself wy. Julle moet vas en julle moet vir die Here ’n vuur-offer bring.

28. Julle mag nie op hierdie dag die werk doen wat julle altyd doen nie, want dit is die Versoendag om vir julle versoening te doen voor julle God die Here.

29. As iemand nie op hierdie dag vas nie, dan moet julle hom afsny van sy volk.

30. En wanneer iemand op hierdie dag werk doen wat hy altyd doen, dan sal Ek self hom wegvat van sy volk en Ek sal hom laat sterf.

Lees volledige hoofstuk Levitikus 23