Ou Testament

Nuwe Testament

Josua 9:7-19 Bybel vir Almal (ABA)

7. Die leiers van die Israeliete het vir die Hewiete gesê: “Julle woon miskien hier naby ons, en dan kan ons nie ’n ooreenkoms maak met julle nie.”

8. Hulle sê toe vir Josua: “Ons sal vir julle werk.”Josua vra toe: “Wie is julle en van waar kom julle?”

9. Hulle het vir hom gesê: “Ons kom van ’n baie ver land. Maar ons het die Naam van jou God die Here gehoor, en ons het gehoor van alles wat Hy in Egipte gedoen het.

10. Ons het ook gehoor van alles wat Hy gedoen het aan die twee konings van die Amoriete oos van die Jordaan-rivier: koning Sihon van Gesbon en koning Og van Basan. Og het in Astarot gewoon.

11. Ons leiers en al die mense in ons land het vir ons gesê: ‘Julle moet padkos saamneem en julle moet na die Israeliete toe gaan en vir hulle sê: “Ons wil vir julle werk, daarom moet julle ’n ooreenkoms maak met ons.” ’

12. Kyk ons brood, dit was warm toe ons dit uit ons huise saamgeneem het en na julle toe gekom het, en kyk, nou is dit droë krummels.

13. Hierdie wynsakke was nuut toe ons hulle volgemaak het, en kyk, hulle het gebars. En hier is ons klere en ons sandale, hulle het oud geword op die lang pad waar ons geloop het.”

14. Die Israeliete het van die padkos geëet, maar hulle het nie vir die Here gevra wat hulle vir die boodskappers moet sê nie.

15. Josua het vrede gemaak met die Gibeon-mense. Hy het ’n ooreenkoms gemaak met hulle en gesê dat hy hulle nie sal doodmaak nie. Die leiers van die volksvergadering het dit belowe en hulle het gesê die Here is die getuie.

16. Maar drie dae nadat hulle die ooreenkoms gemaak het, het hulle gehoor dat dit mense is wat baie naby woon.

17. Toe die Israeliete verder gaan, het hulle op die derde dag by die stede van die Gibeon-mense gekom. Die stede was Gibeon, Kefira, Beërot en Kirjat-Jearim.

18. Maar die Israeliete het nie die Gibeon-mense doodgemaak nie, want die leiers van die volksvergadering het belowe dat hulle dit nie sal doen nie, en hulle het gesê die Here, die God van Israel, is die getuie. Die hele volksvergadering het hulle leiers beskuldig,

19. maar al die leiers het vir hulle gesê: “Ons het self vir hulle belowe dat ons hulle nie sal doodmaak nie en ons het gesê die Here, die God van Israel, is die getuie. Daarom kan ons hulle nie nou aanval nie.

Lees volledige hoofstuk Josua 9