Ou Testament

Nuwe Testament

Josua 10:24-31 Bybel vir Almal (ABA)

24. Nadat hulle die konings na Josua gebring het, het Josua al die Israeliete geroep en hy het gepraat met die leiers van die manne wat saam met hom oorlog gemaak het. Hy het vir hulle gesê: “Kom sit julle voete op die nekke van hierdie konings.”Die leiers het gekom en hulle het hulle voete op die nekke van daardie konings gesit.

25. Josua het vir die leiers gesê: “Julle moenie bang en bekommerd wees nie, julle moet sterk en dapper wees, want julle sal oorlog moet maak teen julle vyande, maar die Here sal dieselfde doen met daardie vyande.”

26. Josua het toe die vyf konings doodgemaak, en hy het hulle liggame laat ophang aan bome. Die liggame het tot die aand daar gehang.

27. Toe die son ondergaan, het Josua gesê hulle moet die liggame afhaal van die bome. Hulle het dit gedoen en hulle het die liggame in die grot gegooi waar die vyf konings weggekruip het. Toe het hulle groot klippe voor die grot gesit. Die klippe is nou nog daar.

28. Josua het daardie dag ook die stad Makkeda oorwin en hy het die mense in die stad doodgemaak. Hy het gesê hulle is gewy aan die Here en hy het hulle almal doodgemaak, daar het niemand vry weggekom nie. Josua het met die koning van Makkeda dieselfde gedoen wat hy gedoen het met die koning van Jerigo.

29. Josua en al die manne van Israel het van Makkeda na die stad Libna gegaan, en hy het oorlog gemaak teen die stad.

30. Die Here het die Israeliete laat wen teen die mense van Libna en teen die koning van die stad. Hy het almal in die stad laat doodmaak. Nie een het aangehou lewe nie. Josua het met die koning van Libna dieselfde gedoen wat hy gedoen het met die koning van Jerigo.

31. Josua en al die manne van Israel het toe verder gegaan, hulle het na die stad Lakis gegaan. Hulle het hulle tente opgeslaan rondom die stad en hulle het die stad aangeval.

Lees volledige hoofstuk Josua 10