Ou Testament

Nuwe Testament

Job 1:11-22 Bybel vir Almal (ABA)

11. Maar as U iets wegvat wat hy het, dan sal hy vir U sê hy vervloek U, dit is seker.”

12. Toe sê die Here vir die Satan: “Jy mag doen wat jy wil met alles wat Job het, maar jy mag niks doen aan homself nie.”Die Satan het toe weggegaan van die Here.

13. Eendag het die kinders van Job partytjie gehou in die huis van hulle oudste broer.

14. Toe kom daar ’n slaaf by Job, en hy sê: “Die slawe en die beeste het geploeg, en die donkies het daar naby gewei,

15. toe kom die Sabeërs skielik en hulle vat al die beeste en die donkies. Hulle het die slawe doodgemaak, net ek het vry weggekom om dit vir jou te kom vertel.”

16. Terwyl die slaaf besig was om te praat, kom daar ’n ander slaaf en hy sê: “Die weerlig het die skape en die bokke doodgeslaan, en ook die slawe wat by hulle was. Net ek het vry weggekom om dit vir jou te kom vertel.”

17. Terwyl daardie slaaf besig was om te praat, kom daar ’n ander slaaf en hy sê: “Drie groepe Galdeërs het skielik gekom en hulle het die kamele gevat en die slawe doodgemaak wat by die kamele was. Net ek het vry weggekom om dit vir jou te kom vertel.”

18. Terwyl daardie slaaf besig was om te praat, kom daar ’n ander slaaf en hy sê: “Jou kinders was besig om partytjie te hou in hulle oudste broer se huis,

19. toe kom daar skielik ’n sterk wind van die woestyn en dit waai die huis om. Die vier mure van die huis het op die kinders geval, en hulle is almal dood. Net ek het vry weggekom om dit vir jou te kom vertel.”

20. Job het opgestaan en hy het sy bo-kleed geskeur en sy hare afgeskeer. Hy het gaan lê met sy gesig teen die grond

21. en hy het gesê: “Ek het niks gehad toe ek gebore is nie en ek sal niks hê wanneer ek sterf nie. Die Here het gegee en die Here het geneem. Ek prys die Naam van die Here!”

22. Terwyl dit alles gebeur het, het Job nie sonde gedoen nie, hy het nie gesê dat God iets verkeerd gedoen het nie.

Lees volledige hoofstuk Job 1