Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 31:34-51 Bybel vir Almal (ABA)

34. Ragel het die beeldjies in ’n sak weggesteek en sy het bo-op die sak gaan sit. Laban het oral in al die tente gesoek, maar hy het niks gekry nie.

35. Ragel het vir haar pa gesê: “Pa moenie kwaad word vir my as ek nie vir Pa opstaan nie. Ek menstrueer.”Laban het verder gesoek, maar hy het niks gekry nie.

36. Toe het Jakob kwaad geword en hy het hard met Laban gepraat. Hy het vir Laban gevra: “Wat het ek verkeerd gedoen? Watter sonde het ek gedoen? Hoekom het jy my gevolg en gejaag?

37. Jy het in al my goed gesoek. Het jy iets gekry wat uit jou huis kom? As jy iets gekry het, sit dit dan hier neer voor my familie en jou familie, sodat hulle kan sê wie was reg, ek of jy.

38. Ek was 20 jaar lank by jou. Jou skaap-ooie en jou bok-ooie het gereeld lammers gekry, en ek het nie jou ramme geslag om te eet nie.

39. Wanneer die roofdiere ’n dier van jou doodgebyt het, dan het ek nie die dooie dier vir jou gebring nie. Ek moes een van my diere in sy plek gee. Wanneer diewe in die dag of in die nag van jou diere gesteel het, dan moes ek een van mý diere gee vir elkeen van daardie diere.

40. Ek het baie swaar gekry. In die dag het die son my gebrand en in die nag het ek baie koud gekry. Ek kon nie slaap nie.

41. Ek het nou 20 jaar vir jou gewerk. Ek het 14 jaar lank gewerk om jou twee dogters te kry, en ses jaar om skape en bokke van jou te kry. Jy het my betaling tien maal verander.

42. As die God van my pa my nie gehelp het nie, dan sou jy my weggestuur het en jy sou niks vir my gegee het nie. Die God van Abraham en die God wat vir Isak beskerm het, het gesien dat ek swaarkry. Hy het gesien hoe hard ek gewerk het, en Hy het gisteraand gesê wie is reg, ek of jy.”

43. Toe sê Laban vir Jakob: “Hierdie dogters is my dogters en hierdie kinders is my kinders en hierdie skape en bokke is my skape en bokke. Alles wat jy sien, is myne. Ek mag nie aan my dogters of hulle kinders iets doen wat sleg is nie.

44. Kom ons twee maak ’n ooreenkoms wat sê wat ons aan mekaar moet doen.”

45. Jakob neem toe ’n klip en hy sit dit regop sodat dit ’n gedenksteen kan wees wat hulle sal help om die ooreenkoms te onthou.

46. Jakob sê toe vir sy familie: “Bring nog klippe.”Hulle het ’n hoop klippe opmekaar gepak. Toe het hulle daar by die hoop klippe geëet.

47. Laban het die plek Jegar-Sahaduta genoem en Jakob het dit Galed genoem.

48. Toe sê Laban: “Hierdie hoop klippe wys vandag dat ons saam besluit het om reg te doen aan mekaar.”Daarom het hulle dit Galed genoem.

49. Laban het die plek ook Mispa genoem. Hy het gesê: “Die Here sal kyk dat dit reg gaan tussen ons, ook wanneer ons mekaar nie sien nie.

50. God sal weet wanneer jy slegte dinge doen aan my dogters of wanneer jy met ander vroue trou, ook wanneer daar niemand anders by ons is nie.”

51. Laban het vir Jakob gesê: “Hier is die hoop klippe en hier is die gedenksteen wat ek regop gesit het.

Lees volledige hoofstuk Genesis 31