Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 3:2-17 Bybel vir Almal (ABA)

2. Die vrou sê toe vir die slang: “Ons mag eet van die vrugte van die bome in die tuin,

3. maar God het gesê ons mag nie eet van die vrugte van die boom in die middel van die tuin nie. Hy het gesê ons mag nie daaraan raak nie, want dan sal ons sterf.”

4. Toe sê die slang vir die vrou: “Julle sal nie sterf nie. Dit is seker.

5. God het dit gesê omdat Hy weet dat as julle daarvan eet, dan sal julle alles verstaan. Julle sal soos God word en julle sal weet wat is goed en wat is sleg.”

6. Die vrou het toe gekyk en gesien sy kan van die boom se vrugte eet, en dit lyk baie lekker. Sy het nou geweet die vrugte sal haar slim maak. Sy het van die vrugte gepluk en geëet. Sy het ook vir haar man daarvan gegee, en hy het ook geëet.

7. Toe verstaan hulle alles, en hulle besef hulle is kaal. Hulle het vyeblare aanmekaar vasgewerk en hulle het daarvan kort rokke vir hulleself gemaak.

8. Die mens en sy vrou het gehoor die Here God loop in die tuin. Dit was aand, en die wind het gewaai. Die mens en sy vrou het toe vir die Here God weggekruip tussen die bome in die tuin.

9. Toe roep die Here God die mens en Hy vra vir hom: “Waar is jy?”

10. Die mens het geantwoord: “Ek het gehoor U is in die tuin en ek het bang geword, want ek is kaal. Toe kruip ek weg.”

11. Die Here God vra toe vir die mens: “Wie het vir jou gesê jy is kaal? Het jy geëet van die vrugte wat Ek gesê het jy mag nie eet nie?”

12. Die mens het gesê: “Ú het die vrou vir my gegee. Dit is sý wat vir my van die vrugte gegee het, en ek het daarvan geëet.”

13. Die Here God vra toe vir die vrou: “Wat het jy gedoen?”En die vrou sê: “Die slang het my bedrieg, en ek het geëet.”

14. Toe sê die Here God vir die slang: “Ek vervloek jou omdat jy dit gedoen het. Al die mak diere en die wilde diere sal nie vervloek wees nie, maar jý sal vervloek wees. Jy sal op die grond seil en jy sal stof eet totdat jy doodgaan.

15. “Jy en die vrou sal altyd vyande wees, en julle kinders sal ook altyd vyande wees. Haar nageslag sal probeer om jou dood te maak, en jy sal haar nageslag pik.”

16. Vir die vrou het die Here God gesê: “Ek sal jou baie swaar laat kry wanneer jy swanger is. Jy sal baie swaar kry wanneer jou kinders gebore word. Jy sal altyd jou man begeer. Jou man sal jou hoof wees.”

17. Daarna het die Here God vir die mens gesê: “Jy het na jou vrou geluister en jy het geëet van die vrugte van die boom wat jou kan help om te weet wat goed is en wat sleg is. Ek het vir jou gesê jy moenie daarvan eet nie. Daarom vervloek Ek die grond waarin jy moet werk. Jy sal baie swaar kry en jy sal jou hele lewe lank hard werk om genoeg kos te kry.

Lees volledige hoofstuk Genesis 3