Ou Testament

Nuwe Testament

Ester 8:1-7 Bybel vir Almal (ABA)

1. Koning Ahasveros het dieselfde dag Haman se huis vir koningin Ester gegee, Haman was die vyand van die Judeërs. Mordegai het die belangrikste amptenaar van die koning geword, want Ester het vir die koning gesê dat Mordegai haar neef is.

2. Die koning het sy seël afgehaal en hy het dit vir Mordegai gegee, dit was die seël wat hy voorheen weggeneem het van Haman. Ester het vir Mordegai gesê hy moet die bestuurder van Haman se huis wees.

3. Daarna het Ester weer met die koning gaan praat. Sy het voor hom gaan lê en sy het gehuil. Sy het vir hom gevra dat hy moet keer dat die planne van Haman, die man van die nageslag van Agag, nie slaag nie, want Haman het slegte planne teen die Judeërs gemaak.

4. Die koning het die goue septer na Ester toe uitgesteek, en Ester het opgestaan en voor die koning gaan staan.

5. Sy het gesê: “As die koning dink dit is goed, en as jy dink dit is reg, dan moet jy asseblief iets doen vir my. As jy lief is vir my, dan moet jy sê dat jy die briewe van Haman stop. Haman, die man van die nageslag van Agag, het die briewe geskryf, want hy wou die Judeërs in al die provinsies van die koning laat doodmaak.

6. Ek wil nie hê dat so ’n slegte ding met my volk gebeur nie. Ek wil nie hê dat hulle my familie doodmaak nie.”

7. Koning Ahasveros het vir koningin Ester en vir die Judeër Mordegai gesê: “Julle weet dat ek Haman se huis vir Ester gegee het en dat hulle vir Haman aan die paal opgehang het omdat hy gesê het dat hulle die Judeërs moet doodmaak.

Lees volledige hoofstuk Ester 8