Ou Testament

Nuwe Testament

Ester 2:9-23 Bybel vir Almal (ABA)

9. Hegai het gesien dat Ester baie mooi is, en hy het gehou van haar. Hy het dadelik gesorg dat sy die regte kos kry en dat hulle vir haar baie mooi maak. Hy het sewe meisies uit die paleis gekies om haar te help, en hy het vir haar en die meisies die beste kamers gegee om in te woon.

10. Ester het nie gesê van watter volk sy is en wie haar familie is nie. Mordegai het gesê sy moet stilbly daaroor.

11. Mordegai het elke dag by die kamers van die koning se vroue verbygeloop om uit te vind hoe dit met Ester gaan en wat hulle doen met haar.

12. Hulle het elke meisie twaalf maande lank mooi gemaak, ses maande met mirre-olie en ses maande met balsem en ander mooimaakgoed. Wanneer dit ’n meisie se beurt was om by koning Ahasveros te kom,

13. dan kon sy enige iets kry wat sy na die paleis wou saamneem, enige iets uit die kamers van die vroue.

14. Die meisie het in die aand ingegaan in die paleis. Wanneer sy in die oggend terugkom, moes sy na ander kamers gaan waar die byvroue van die koning gewoon het. Die amptenaar Saäsgas het vir hierdie vroue gesorg. ’n Byvrou het net weer by die koning gekom as hy gesê het sy moet kom.

15. Ester was die dogter van Abigajil, Mordegai se oom. Mordegai het haar aangeneem, sy was soos Mordegai se eie dogter. Toe dit Ester se beurt was om na die koning toe te gaan, het sy niks gevra wat sy wou saamneem nie. Sy het net die klere saamgeneem wat die amptenaar Hegai gesê het. Hegai was die opsigter wat die vroue van die koning opgepas het. Almal wat vir Ester gesien het, het gehou van haar.

16. Ester het by koning Ahasveros in sy paleis gekom in die tiende maand, die maand Tebet, in die sewende jaar nadat hy koning geword het.

17. Die koning het baie lief geword vir Ester, meer lief as vir al die ander vroue. Hy het meer van haar gehou as van die ander meisies. Hy het ’n kroon op haar kop gesit en hy het haar die koningin gemaak. Voorheen was Vasti die koningin.

18. Die koning het ’n groot fees gehou vir al sy amptenare en ministers. Dit was ’n fees vir Ester. Die koning het gesê die mense van die provinsies moet ’n tyd lank nie belasting betaal nie en hy het vir baie mense presente gegee.

19. Toe die amptenare die meisies bymekaargebring het, was Mordegai ’n amptenaar by die paleis.

20. Ester het nie gesê wie haar familie is en van watter volk sy is nie. Mordegai het gesê sy moenie vir hulle sê nie, en Ester was nou ook so gehoorsaam soos toe sy grootgeword het by hom.

21. In die tyd toe Mordegai ’n amptenaar was by die paleis van die koning, het twee amptenare van die koning kwaad geword vir koning Ahasveros en hulle het besluit om die koning te vermoor. Hulle was wagte wat die koning moes oppas.

22. Mordegai het gehoor wat hulle wil doen, en hy het dit vir koningin Ester gesê. Sy het vir die koning gaan sê wat Mordegai gesê het.

23. Die koning het gesê sy amptenare moet kyk of dit waar is, en hy het die twee mans laat ophang aan ’n paal. Hy het gesê sy amptenare moet dit in sy dagboek skryf.

Lees volledige hoofstuk Ester 2