Ou Testament

Nuwe Testament

Esra 4:12-24 Bybel vir Almal (ABA)

12. Die koning moet dít weet: Die Judeërs wat van jou na ons toe gekom het, het na Jerusalem gegaan. Jerusalem is ’n opstandige en slegte stad. Hulle is besig om die mure te bou, die fondamente is klaar gebou.

13. Die koning moet ook weet dat wanneer hulle hierdie stad klaar gebou het en wanneer hulle sy mure reggemaak het, dan sal hulle nie belasting betaal nie. Die koning sal dan baie geld verloor.

14. Ons werk vir die koning. Ons wil nie hê dat die koning geld moet verloor nie. Daarom stuur ons hierdie brief om vir die koning te laat weet

15. dat wanneer jy soek in die dagboeke van die konings wat voor jou regeer het, dan sal jy sien dat hierdie stad ’n opstandige stad was, dit het konings en provinsies baie geld laat verloor. Die mense van die stad het altyd probeer om ander mense opstandig te maak teen konings. Daarom het die konings die stad verwoes.

16. Ons wil hê die koning moet weet dat wanneer hulle hierdie stad weer gebou het en sy mure reggemaak het, dan sal jy niks in Wes-Eufraat hê nie.

17. Die koning het ’n brief vir hulle teruggeskryf en gesê:Aan die hoof-amptenaar Regum, die sekretaris Simsai en die ander amptenare saam met hulle wat woon in Samaria en op ander plekke in die provinsie Wes-Eufraat: Ek hoop dit gaan goed met julle. En nou:

18. Ek het julle brief laat vertaal en ek het gesê hulle moet dit vir my lees.

19. Ek het toe gesê my mense moet kyk wat in die dagboeke geskryf is, en hulle het gesien dat daardie stad altyd opstandig was teen konings. Die mense van die stad het aangehou om mekaar opstandig te maak.

20. Jerusalem het belangrike konings gehad wat oor die hele Wes-Eufraat regeer het. Die mense moes belasting betaal aan die konings.

21. Daarom moet julle vir daardie mense sê hulle moet ophou om te bou. Hulle mag nie daardie stad weer bou nie, hulle moet wag totdat ek gesê het hulle mag dit bou.

22. Julle moet doen wat ek sê. Ek wil nie nog geld verloor nie.

23. Toe Regum en die skrywer Simsai en die ander amptenare saam met hulle hoor wat die koning geskryf het, het hulle dadelik na Jerusalem gegaan, na die Judeërs toe, en hulle het gesê die Judeërs moet ophou werk.

24. Die Judeërs het opgehou om die tempel te bou, en hulle het nie verder gebou nie tot die tweede jaar nadat Darius koning van Persië geword het.

Lees volledige hoofstuk Esra 4