Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 40:1-13 Bybel vir Almal (ABA)

1. Ek het gevoel die Here sit sy hand op my. Dit was in die 25ste jaar nadat ons gevangenes geword het in die land Babel. Dit was in die begin van die jaar, op die tiende dag van die maand, ja, presies op daardie dag. Dit was 14 jaar nadat die stad Jerusalem verwoes is.

2. Die Here het vir my dinge gewys. Dit het gelyk of Hy my na Jerusalem gebring het en my op ’n baie hoë berg neergesit het. Op die suidekant van die berg was iets wat gelyk het soos ’n stad.

3. Die Here het my daarnatoe gebring, en daar was ’n man, die man het geblink soos brons. In sy hand was ’n tou van vlas en ’n meetriet, en hy het by die poort gestaan.

4. Die man het vir my gesê: “Mens, jy moet goed kyk en luister, jy moet alles onthou wat ek vir jou sal wys, want die Here het jou hiernatoe gebring om vir jou alles te wys. Jy moet vir die volk Israel alles gaan vertel wat jy gesien het.”

5. Ek sien toe daar is ’n muur buite-om die tempel. Die man het die muur gemeet. Die muur was een meetriet dik en een meetriet hoog. Die meetriet wat die man in sy hand gehad het, was ses el en ’n handbreedte lank.

6. Toe het die man na die poort by die oostekant gegaan. Hy het teen die trappe opgeklim en hy het die drumpel van die poort gemeet. Die drumpel was een meetriet breed. Daar was net een drumpel, en dit was een meetriet breed.

7. Daar was kamers in die poort. Elke kamer was een meetriet lank en een meetriet breed. Elke muur tussen die kamers was vyf el dik. Die drumpel van die poort langs die kant van die voorportaal van die poort was een meetriet breed. Die voorportaal was aan die voorkant van die tempel.

8. Die man het die drumpel van die voorportaal aan die voorkant van die tempel gemeet. Dit was een meetriet breed.

9. Toe meet hy die voorportaal. Dit was ag el lank. Die pilare van die voorportaal was twee el dik. Die voorportaal van die poort was aan die voorkant van die tempel.

10. Daar was drie kamers langs elke kant van die poort. Die kamers was ewe groot en die pilare langs altwee kante was ewe dik.

11. Die man het gemeet hoe breed die poort is waar ’n mens ingaan. Dit was tien el. Die poort was 13 el lank.

12. Daar was ’n lae muur voor die kamers langs altwee kante. Die muur was een el hoog. Die kamers langs altwee kante was ses el breed.

13. Die man het ook gemeet hoe breed die poort is, van die een buitemuur tot by die ander buitemuur. Dit was 25 el. Die deure van die kamers was oorkant mekaar.

Lees volledige hoofstuk Esegiël 40