Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 36:18-32 Bybel vir Almal (ABA)

18. Ek het kwaad geword en Ek het hulle gestraf omdat hulle mense vermoor het in die land en omdat hulle die land onrein gemaak het met afgode.

19. Ek het hulle na al die kante toe gejaag tussen die volke in en Ek het hulle oral in ander lande laat woon. Ek het hulle gestraf oor die dinge wat hulle gedoen het.

20. Toe hulle daar by die ander volke kom, het hulle so gelewe dat die mense sleg gepraat het oor My. Die mense het gesê: ‘Dit is die Here se volk, maar hulle moes weggaan uit sy land.’

21. Die volk Israel het my Naam ontwy tussen die volke waar hulle gekom het, en Ek was hartseer daaroor.

22. Daarom moet jy vir die volk Israel sê: Die Here, Hy wat Here is, sê: Israel, Ek sal iets doen, maar Ek sal dit nie doen om júlle te help nie, Ek sal dit doen vir mý heilige Naam. Julle het my Naam ontwy tussen die volke waar julle gekom het.

23. Ek sal my groot Naam weer heilig laat wees, my Naam wat julle ontwy het tussen die volke. Die volke sal weet dat Ek die Here is wanneer Ek iets doen met julle en wanneer Ek vir hulle wys dat Ek die heilige God is.”Dit het die Here gesê, Hy wat Here is.

24. “Ek sal julle wegneem tussen die volke, Ek sal julle uit al die lande bymekaarmaak en Ek sal julle na julle eie land bring.

25. Ek sal water op julle spat, die water sal julle rein maak. Ek sal alles wegneem wat julle onrein maak en ook al julle afgode.

26. Ek sal vir julle ’n nuwe hart en ’n nuwe gees gee. Ek sal die harde klip-hart uithaal uit julle liggame en Ek sal vir julle ’n sagte hart van vleis gee.

27. Ek sal my Gees in julle gee en Ek sal julle laat lewe soos Ek wil hê, Ek sal julle laat doen wat Ek sê.

28. Julle sal woon in die land wat Ek vir julle voorvaders gegee het. Julle sal my volk wees, en Ek sal julle God wees.

29. Ek sal julle red van alles wat julle onrein gemaak het. Ek sal praat met die koring en Ek sal die koring baie laat word. Julle sal nie weer honger wees nie.

30. Ek sal vir die bome sê om baie vrugte te dra, en daar sal baie koring op die lande wees. Dan sal julle nie weer honger wees en julle sal nie weer hoor hoe die ander volke julle spot nie.

31. Julle sal onthou hoe sleg julle gelewe het en julle sal onthou wat julle verkeerd gedoen het. Julle sal naar word oor julle sondes en oor die dinge wat julle gedoen het, dinge wat Ek haat.

32. Dit is nie vir júlle wat Ek dit sal doen nie, dit moet julle weet. Israel, julle moet skaam wees en jammer voel oor wat julle gedoen het.”Dit het die Here gesê, Hy wat Here is.

Lees volledige hoofstuk Esegiël 36