Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 16:32-51 Bybel vir Almal (ABA)

32. Jy was soos ’n slegte vrou wat gekies het om by ander mans te slaap, nie by haar eie man nie.

33. Al die prostitute wil hê dat die mans húlle moet betaal, maar jý het vir almal betaal, almal vir wie jy lief was. Jy het hulle betaal om van oral na jou toe te kom en om ander gode saam met jou te dien.

34. Jy was anders as al die ander prostitute toe jy ontrou geword het. Mans het nie self na jou toe gekom nie, hulle het nie vir jou betaal nie, nee, jy het vir húlle betaal. Jy was anders.”

35. Daarom, slegte vrou, luister na wat die Here sê.

36. Die Here, Hy wat Here is, sê: “Jy het baie slegte dinge gedoen, jy het jou klere uitgetrek vir almal vir wie jy lief was, vir jou afgode wat Ek haat. Jy het jou kinders doodgemaak en jy het hulle bloed vir die afgode gegee.

37. Daarom sal Ek nou almal bymekaarbring vir wie jy lief is, almal van wie jy gehou het en ook almal van wie jy nie gehou het nie. Ek sal hulle van oral bymekaarbring en dan sal Ek jou klere uittrek sodat almal kan sien jy is kaal.

38. Ek sal jou straf soos mans vroue straf wat egbreuk en moord gepleeg het. Jy sal self sterf, want Ek is kwaad vir jou, baie kwaad.

39. Ek sal jou gee vir almal vir wie jy lief was, en hulle sal doen met jou wat hulle wil. Hulle sal jou offer-plekke afbreek, hulle sal jou klere uittrek en jou juwele vat, hulle sal jou so los, kaal, sonder klere.

40. Hulle sal mense bymekaar laat kom om jou te straf, hulle sal jou doodgooi met klippe en hulle sal jou stukkend kap met hulle swaarde.

41. Hulle sal jou huise afbrand. Hulle sal jou straf, en baie vroue sal dit sien. So sal jy ophou om ’n slegte vrou te wees. Jy sal nie weer vir mans iets verniet gee nie.

42. Wanneer Ek jou klaar gestraf het, dan sal Ek ophou om kwaad te wees. Dan sal Ek weer kalm word en vrede in my hart hê.

43. Ek straf jou soos Ek jou moet straf oor wat jy gedoen het. Ek doen dit omdat jy vergeet het wat gebeur het toe jy jonk was. Jy het My baie kwaad gemaak toe jy al hierdie dinge gedoen het.”Dit het die Here gesê, Hy wat Here is.“Ek haat al hierdie dinge wat jy doen, jy het sleg gelewe.

44. Luister, die mense wat graag spreekwoorde maak, sal oor jou ook ’n spreekwoord maak. Hulle sal sê: ‘Soos die ma is, so is haar dogter.’

45. Jy is jou ma se dogter, jou ma wat haar man en haar kinders gehaat het. Jy is jou susters se suster, jou susters wat hulle mans en hulle kinders gehaat het. Julle ma was ’n Hetiet en julle pa was ’n Amoriet.

46. Samaria is jou oudste suster. Sy en haar dogters het noord van jou gewoon. Sodom is jou jonger suster. Sy en haar dogters het suid van jou gewoon.

47. Jy het soos hulle gelewe en jy het die dinge gedoen wat hulle gedoen het, die dinge wat Ek haat. Maar jy was nie tevrede nie, jy het nog slegter as hulle gelewe.”

48. Die Here, Hy wat Here is, sê: “Jou suster Sodom en haar dogters het nie so baie sonde gedoen soos jy en jou dogters nie. Dit is seker, so seker soos Ek lewe.

49. Luister, jou suster Sodom was trots en selfsugtig. Sy en haar dogters het baie kos gehad, te veel kos, maar hulle het niks gedoen om mense te help wat hulleself nie kon help nie, mense wat niks gehad het nie.

50. Hulle was hoogmoedig en hulle het dinge gedoen wat Ek haat. Ek het dit gesien en Ek het hulle laat verdwyn, jy het dit gesien.

51. Samaria het baie minder sonde gedoen as jy, hulle het minder as die helfte gedoen wat jy gedoen het. Jy het baie meer dinge gedoen wat Ek haat. Jy het baie dinge gedoen wat Ek haat, so baie dinge dat dit gelyk het of jou susters reg lewe.

Lees volledige hoofstuk Esegiël 16