Ou Testament

Nuwe Testament

Esegiël 10:11-22 Bybel vir Almal (ABA)

11. Die wiele kon na enige kant beweeg. Die wiele het nie weggedraai wanneer hulle beweeg nie, want die wiele het almal gegaan waar die voorste wiel gegaan het. Hulle het nie weggedraai wanneer hulle beweeg nie.

12. Elke gerub se lyf was rondom vol oë, ook sy rug, sy hande en sy vlerke, en ook die vier wiele.

13. Ek het gehoor iemand sê dit is wiele.

14. Elke gerub het vier gesigte gehad. Die eerste gesig was die gesig van ’n gerub, die tweede gesig was die gesig van ’n mens, die derde gesig was die gesig van ’n leeu en die vierde was die gesig van ’n arend.

15. Die gerubs het in die lug opgegaan. Dit was dieselfde diere wat ek by die Kebar-kanaal gesien het.

16. Wanneer die gerubs beweeg het, dan het die wiele langs hulle ook beweeg. Wanneer die gerubs met hulle vlerke in die lug opgegaan het, dan het die wiele nie weggedraai nie. Hulle het langs die gerubs gebly.

17. Wanneer die gerubs gestaan het, dan het die wiele ook gestaan, en wanneer die gerubs in die lug opgegaan het, dan het die wiele ook opgegaan. Die gees van die diere was in die wiele.

18. Die lig wat om die Here is, het weggegaan van die drumpel van die tempel en dit het bokant die gerubs gebly.

19. Ek het gesien hoe die gerubs hulle vlerke optel en in die lug opgaan. Toe hulle gegaan het, het die wiele saam met hulle gegaan. Hulle het gaan staan by die ingang van die poort oos van die tempel, en die lig wat om die Koning, die God van Israel, is, was bokant hulle.

20. Dit was die diere wat ek onder die God van Israel gesien het by die Kebar-kanaal. Ek het geweet hulle is gerubs.

21. Elke gerub het vier gesigte gehad en dit het gelyk of daar hande onder hulle vlerke is, hande soos ’n mens se hande.

22. Hulle gesigte het gelyk soos die gesigte wat ek by die Kebar-kanaal gesien het. Elke gerub het reguit vorentoe gegaan.

Lees volledige hoofstuk Esegiël 10