Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 9:8-24 Bybel vir Almal (ABA)

8. Die Here het vir Moses en Aäron gesê: “Julle moet as uit ’n oond neem. Moses moet dit dan op in die lug gooi terwyl die farao kyk.

9. Die as sal fyn stof word en dit sal oor die hele Egipte waai. Dan sal daar op die mense en diere sere kom wat sal aanhou swel en oopgaan.”

10. Moses en Aäron het toe as uit ’n oond geneem en hulle het voor die farao gaan staan. Moses het die as in die lug gegooi. Die as het op die mense en diere gewaai en hulle het sere gekry.

11. Die towenaars kon nie dieselfde doen wat Moses gedoen het nie, want hulle was ook vol sere. Daar was sere op die towenaars en op al die Egiptenaars.

12. Maar die Here het die farao hardkoppig gemaak. Die farao het nie na Moses en Aäron geluister nie. Dit was soos die Here vir Moses gesê het.

13. Die Here het vir Moses gesê hy moet die volgende oggend vroeg na die farao toe gaan en vir hom sê dat die Here, die God van die Hebreërs, sê: “Jy moet my volk, die Israeliete, laat gaan sodat hulle My kan dien.

14. As jy nie die Israeliete laat gaan nie, dan sal Ek nou jou en jou amptenare en jou volk nog baie swaarder straf. Dan sal jy weet daar is niemand op die hele aarde wat soos Ek is nie.

15. Ek kan jou en jou volk nou so siek maak dat julle almal sal sterf.

16. Maar Ek laat jou nog lewe. Ek doen dit sodat jy kan sien hoe sterk Ek is, en sodat almal op die aarde my Naam kan eer.

17. Jy dink jy regeer oor my volk en jy wil hulle nie laat gaan nie.

18. Ek sal môre baie hael stuur. Dit het nog nooit in Egipte so baie gehael nie, van die begin af tot vandag toe.

19. Jy moet nou jou bokke en jou ander diere na ’n veilige plek neem, ook al jou goed wat buite in die veld is. Die hael sal val op al die mense en diere in die veld, op almal wat nie onder ’n dak is nie. Die hael sal hulle doodslaan.”

20. Die farao se amptenare wat geluister het na wat die Here gesê het, het hulle slawe en diere na die huise en die stalle gebring.

21. Maar ander amptenare het nie gedoen wat die Here gesê het nie. Hulle het hulle slawe en hulle diere buite laat bly.

22. Die Here sê toe vir Moses: “Steek jou hand op in die lug, dan sal daar hael val oor die hele Egipte, oor al die mense en diere, oor al die plante in Egipte.”

23. Moses het sy kierie opgesteek in die lug. Die Here het donderweer en hael gestuur, en die weerlig het op die aarde geslaan. Die Here het baie hael laat val op Egipte.

24. Dit het baie gehael, en die weerlig het na al die kante toe geslaan. Daar was nog nooit so baie weerlig en hael in die hele Egipte nie, vandat daar mense woon.

Lees volledige hoofstuk Eksodus 9