Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 28:14-30 Bybel vir Almal (ABA)

14. en julle moet twee kettinkies van skoon goud vir hulle maak. Julle moet die kettinkies draai soos ’n tou, en die gedraaide kettinkies vassit aan die goud waarin die klippe is.”

15. Die Here het vir Moses gesê: “Julle moet ’n borssak vir Aäron maak. Hy moet dit dra wanneer hy sê wat Ek wil hê julle moet doen. Julle moet dit maak soos die skouer-kleed. Julle moet die borssak maak van goud, van blou, rooi en bloedrooi wol-materiaal en van goeie linne-materiaal.

16. Die borssak moet vierkantig wees, ’n halwe el lank en ’n halwe el breed. Julle moet dit dubbel vou

17. en julle moet vier rye edelstene daarop vassit: ’n karneool, ’n topaas en ’n smarag in die eerste ry;

18. in die tweede ry ’n turkoois, ’n saffier en ’n jaspis;

19. in die derde ry ’n hiasint, ’n agaat en ’n ametis;

20. en in die vierde ry ’n chrisoliet, ’n oniks en ’n opaal. Julle moet al die edelstene vassit in goud.

21. Daar moet twaalf edelstene wees, een edelsteen vir elke seun van Jakob. Dit is ook die name van die twaalf stamme van Israel. Julle moet op elke edelsteen een van die name skryf, soos julle ’n naam op ’n ring skryf.

22. Julle moet vir die borssak kettinkies van skoon goud maak, julle moet die kettinkies draai soos ’n tou.

23. Maak ook twee goue ringe en sit dit vas aan die boonste twee hoeke van die borssak.

24. Maak dan die twee goue kettinkies aan die ringe vas.

25. Die ander twee punte van die kettinkies moet julle vaswerk aan die goud in die skouerbande, aan die voorkant van die skouer-kleed.

26. Julle moet ook twee goue ringe maak en julle moet dit vaswerk aan die onderste twee hoeke van die borssak, aan die binnekant van die skouer-kleed.

27. Julle moet nog twee goue ringe maak en julle moet dit vassit voor aan die twee skouerbande van die skouer-kleed, net bokant die belt.

28. Dan moet julle ’n blou woldraad neem en julle moet die ringe van die borssak vasbind aan die ringe van die skouer-kleed. Dan sal die borssak vas wees aan die skouer-kleed.

29. Aäron moet die name van die stamme van die Israeliete in die borssak teen sy hart dra wanneer hy in die tempel ingaan. So sal Aäron die Here altyd aan sy volk laat dink.

30. Julle moet ook die urim en die tummim in die borssak sit. Dit moet teen Aäron se hart wees wanneer hy ingaan na My toe. Aäron moet altyd die borssak teen sy hart dra wanneer hy na My toe kom om te hoor wat hy moet sê.”

Lees volledige hoofstuk Eksodus 28