Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 21:9-23 Bybel vir Almal (ABA)

9. As hy wil hê sy seun moet met haar trou, dan moet hy met haar doen soos met sy eie dogter.

10. As hy later ’n ander vrou vir homself neem, dan moet hy nog altyd kos en klere gee vir die vrou wat ’n slavin was en hy moet by haar slaap.

11. As hy hierdie drie dinge nie vir haar doen nie, dan mag sy weggaan en sy moenie vir hom betaal nie.”

12. “As iemand ’n ander man slaan en die man sterf, dan moet julle hom ook doodmaak.

13. As hy per ongeluk die man doodgeslaan het en hy het nie planne gemaak om dit te doen nie, dan mag hy vlug na ’n plek wat Ek vir jou sal wys.

14. Maar wanneer iemand planne maak om ’n ander mens dood te maak, dan moet jy hom wegvat en ook doodmaak, ook as hy aan die altaar vashou.

15. “As iemand sy pa of sy ma slaan, dan moet julle hom doodmaak.

16. “As iemand ’n ander mens vang en verkoop, of hy hou hom vir homself, dan moet julle hom doodmaak.

17. “As iemand sy pa of ma vervloek, dan moet julle hom doodmaak.”

18. “Partymaal baklei mense en die een slaan die ander met ’n klip of met sy vuis. As die ander man nie dood is nie maar in die bed moet bly,

19. en later kan opstaan en buite kan rondloop met sy kierie, dan moet julle nie die man doodmaak wat geslaan het nie. Maar hy moet betaal vir die een wat seergekry het, en hy moet ook vir hom sorg totdat hy heeltemal gesond is.

20. “Wanneer iemand sy slaaf of slavin met ’n stok slaan en die slaaf sterf dadelik, dan moet julle die eienaar straf.

21. As die slaaf ’n dag of twee dae daarna nog lewe, dan moet julle nie die eienaar doodmaak nie, want die slaaf behoort aan hom.

22. “Wanneer mans baklei en een van hulle stamp ’n swanger vrou sodat haar baba dood is, maar die vrou is nie ernstig beseer nie, dan moet die man wat haar gestamp het, boete betaal. Hy moet betaal wat die vrou se man vra en wat die hof sê.

23. Maar as die vrou baie seer gekry het, dan moet julle die man op dieselfde manier straf – as sy sterf, dan moet julle hom ook doodmaak.

Lees volledige hoofstuk Eksodus 21