Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 2:5-16 Bybel vir Almal (ABA)

5. Die farao se dogter het na die rivier gegaan om haar te was. Daar was meisies by haar, en hulle het op die rivier se wal geloop. Toe die farao se dogter die kissie tussen die riete sien, het sy haar slavin gestuur om dit te gaan haal.

6. Sy het die kissie oopgemaak en sy het die kind gesien. Die seuntjie het gehuil, en sy was jammer vir hom. Sy het gesê: “Hy is een van die Hebreërs se kinders.”

7. Die kind se suster vra toe vir die farao se dogter: “Moet ek vir jou een van die Hebreeuse vroue gaan roep wat ’n kind het wat aan haar drink? Dan kan sy hierdie kind laat drink.”

8. Die farao se dogter sê toe vir haar: “Ja, gaan!”En die meisie het gegaan en sy het die kind se ma gaan roep.

9. Die farao se dogter het vir die ma gesê: “Neem hierdie kind en maak hom groot. Ek sal jou daarvoor betaal.”Die vrou het toe die kind geneem en sy het hom laat drink.

10. Toe die kind groot was, het sy ma hom na die farao se dogter toe gebring. Die farao se dogter het hom aangeneem, en hy het haar seun geword. Sy het hom Moses genoem. Sy het gesê: “Ek het hom uit die water gehaal.”

11. Toe Moses groot was, het hy eendag na sy eie mense toe gegaan en gesien hoe swaar hulle moes werk. Hy het gesien dat ’n Egiptiese man ’n Hebreeuse man slaan, een van sy eie mense.

12. Hy het rondgekyk en gesien daar is niemand wat hom sien nie. Toe slaan hy die Egiptenaar dood en hy steek die lyk weg in die sand.

13. Die volgende dag het Moses weer na sy mense toe gegaan. Hy het gesien dat twee Hebreeuse mans baklei. Hy vra toe vir die man wat begin baklei het: “Hoekom slaan jy die man? Hy is ook ’n Hebreër.”

14. Die man sê toe: “Wie het gesê jy mag oor ons regeer? Wie het gesê jy kan vir ons sê wat ons moet doen? Wil jy my ook doodmaak soos jy die Egiptenaar doodgemaak het?”Moses het bang geword. Hy het besef dat hulle weet wat hy gedoen het.

15. Toe die farao hoor wat Moses gedoen het, wou hy vir Moses laat doodmaak, maar Moses het gevlug en hy het in Midian gaan woon.Toe hy eendag daar by ’n put sit,

16. kom daar sewe meisies aan. Hulle was die dogters van die priester van Midian. Hulle het water uit die put kom skep om die waterbakke vol te maak sodat hulle pa se skape en bokke kon drink.

Lees volledige hoofstuk Eksodus 2