Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 19:12-22 Bybel vir Almal (ABA)

12. Maar jy moet vir die mense sê tot waar hulle mag gaan. Hulle mag nie teen die berg opgaan of aan sy kant raak nie. As iemand aan die berg raak, dan moet hy sterf.

13. Die ander mense mag nie met hulle hande raak aan iemand wat dit gedoen het nie. Hulle moet hom met klippe doodgooi of met ’n pyl en boog doodskiet. Julle moet dieselfde doen met ’n dier wat aan die berg raak, hy mag ook nie lewe nie. Maar wanneer die mense hoor dat iemand die ramshoring blaas, dan mag hulle opgaan teen die berg.”

14. Moses het afgekom van die berg en hy het na die mense toe gegaan. Hy het hulle gereinig en gesê hulle moet hulle klere was.

15. Hy het vir die mense gesê: “Julle moet oormôre gereed wees, en julle moenie by ’n vrou slaap nie.”

16. Op die derde dag, toe dit oggend word, was daar donderweer en weerlig en ’n donker wolk op die berg. Die Israeliete het gehoor iemand blaas die ramshoring baie hard. Almal in die kamp was baie bang en hulle het gebewe.

17. Moses het die mense uit die kamp gebring om God te ontmoet, en hulle het by die voet van die berg gaan staan.

18. Die hele Sinai-berg was vol rook omdat die Here in ’n vuur afgekom het op die berg. Die rook het in die lug opgetrek soos die rook van ’n oond, en die hele berg het baie gebewe.

19. Die ramshoring het aangehou raas, en die geraas het baie hard geword. Moses het gepraat, en God het hom geantwoord, sy antwoord was soos donderweer.

20. Die Here het afgekom op Sinai-berg. Hy was op die berg en Hy het vir Moses na Hom toe geroep. Moses het gegaan,

21. en die Here het vir hom gesê: “Gaan af en waarsku die mense. Sê hulle moenie opklim na My toe nie. Die mense wat na My kyk, sal sterf.

22. Ook die priesters wat vir My offers bring, moet hulleself reinig, anders sal Ek hulle laat sterf.”

Lees volledige hoofstuk Eksodus 19