Ou Testament

Nuwe Testament

Eksodus 13:15-22 Bybel vir Almal (ABA)

15. Die farao was hardkoppig. Hy het gesê ons mag nie weggaan nie. Toe het die Here al die oudste seuns in Egipte doodgemaak, die oudstes van die mense en van die diere. Daarom offer ons die eerste bul-kalf en die eerste ram-lam vir die Here, en daarom gee ons iets anders in die plek van ons oudste seuns.

16. Dit moet soos ’n teken wees op julle hande en tussen julle oë, sodat julle kan onthou dat die Here ons met sy groot krag gehelp het om weg te gaan uit Egipte.’ ”

17-18. Toe die farao die Israeliete laat gaan het, het God hulle nie gelei op die pad deur die Filistyne se land nie. Dit was die kortste pad en die Israeliete kon goed oorlog maak. Maar God het gesê: “As die Israeliete moet oorlog maak, dan sal hulle miskien begin twyfel en hulle sal hulle planne verander. Dan sal hulle omdraai en teruggaan na Egipte.”Daarom het God hulle met ’n langer pad deur die woestyn laat gaan na die Riet-see.

19. Moses het Josef se lyk met hom saamgeneem, want voordat Josef gesterf het, het hy gesê die Israeliete moet belowe om dit te doen, en God moet die getuie wees. Josef het vir hulle gesê: “God sal julle vrymaak, dit is seker. Wanneer Hy dit doen, dan moet julle my lyk saamneem uit hierdie land.”

20. Die Israeliete het weggegaan van Sukkot en hulle het hulle tente opgeslaan in Etam langs die woestyn.

21. Die Here het elke dag saam met hulle gegaan. In die dag was Hy in ’n wolk wat hulle gelei het en wat vir hulle die regte pad gewys het. In die nag was die Here in ’n vuur om vir hulle lig te gee. Daarom kon hulle in die dag en in die nag loop.

22. In die dag was die wolk by die Israeliete, en in die nag was die vuur by hulle. Die Here en die wolk het altyd by die Israeliete gebly.

Lees volledige hoofstuk Eksodus 13