Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 9:1-5 Bybel vir Almal (ABA)

1. Moses het gesê: “Israeliete, julle moet luister! Julle gaan vandag deur die Jordaan-rivier om die land te gaan vat van volke wat groter en sterker is as julle. In daardie land is daar stede wat sterk en hoë mure het, die mure is so hoog soos die hemel.

2. En daar is groot en lang mense, die Enak-mense. Julle weet van hulle en julle het self gehoor dat mense sê: ‘Wie kan oorlog maak teen die Enak-mense? Niemand.’

3. “Maar julle moet vandag weet dat dit julle God die Here is wat voor julle deur die rivier sal gaan, en Hy is soos ’n vuur wat brand. Dit is Hy wat die Enak-mense sal oorwin. Hy sal hulle voor julle verneder, Hy sal hulle wegjaag en Hy sal hulle vinnig laat verdwyn. Dit het die Here vir julle belowe.

4. Julle God die Here sal hulle wegjaag om plek te maak vir julle, maar dan moet julle nie dink dat die Here julle gebring het om hierdie land vir julleself te vat omdat julle reg gelewe het nie. Nee, hierdie volke het verkeerd gedoen, en daarom sal die Here hulle wegjaag om plek te maak vir julle.

5. Julle gaan om hierdie land vir julleself te vat, maar julle doen dit nie omdat julle reg gedoen het en eerlik was nie. Nee, julle God die Here jaag hierdie volke weg om plek te maak vir julle omdat die volke verkeerd gedoen het en omdat die Here wil doen wat Hy belowe het aan julle voorvaders, aan Abraham, Isak en Jakob.

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 9