Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 28:40-57 Bybel vir Almal (ABA)

40. Jy sal olyfbome oral in jou land hê, maar jy sal nie olyf-olie hê om aan jou te smeer nie, want die olywe sal afval.

41. Jy sal kinders kry, maar hulle sal nie aan jou behoort nie, want vyande sal hulle vang en wegvat.

42. Die sprinkane sal al jou bome en alles verwoes wat op jou land groei.

43. Die vreemdelinge by jou sal belangriker word as jy.

44. Hulle sal vir jou geld en goed kan leen, maar jy sal vir hulle niks kan leen nie. Hulle sal die kop wees en jy sal die stert wees.

45. Al hierdie slegte dinge sal met julle gebeur, en die slegte dinge sal aanhou totdat julle almal gesterf het. Hoekom? Omdat julle nie gehoorsaam was aan julle God die Here nie, en omdat julle nie gedoen het wat die wette sê wat Hy vir julle gegee het nie.

46. Hierdie dinge sal vir julle en julle nageslag tekens wees vir altyd.

47. Voorheen het jy baie dinge gekry, maar toe was jy nie bly nie en jy het dit nie geniet om die Here te dien nie.

48. Daarom sal jy jou vyande dien, die Here sal hulle na jou toe stuur. Jy sal hulle dien terwyl jy honger en dors is, jy sal kaal wees en jy sal niks hê nie. Die Here sal ’n yster-juk op jou nek sit totdat Hy jou laat sterf.

49. Die Here sal ’n ander volk bring om oorlog te maak teen jou, ’n volk van ’n land wat baie ver weg is van jou. Die vyand sal op jou afkom soos ’n arend uit die lug. Jy sal nie hulle taal ken nie,

50. dit sal ’n wrede volk wees, hulle sal nie oumense respekteer nie en hulle sal ook nie jammer wees vir jongmense nie.

51. Daardie volk sal jou kalwers en lammers, jou koring en vrugte op-eet. Hulle sal aanhou totdat jy gesterf het. Hulle sal niks koring of wyn of olyf-olie vir jou laat oorbly nie, niks kalwers of lammers nie, hulle sal dit doen totdat jy sterf.

52. Hulle sal jou aanval van al die kante, in al jou stede en oral in die land wat jou God die Here vir jou gegee het. Hulle sal dit doen totdat die hoë en sterk mure omgeval het, die mure wat jy gedink het sal jou beskerm.

53. “Wanneer die vyande jou aanval van al die kante en wanneer hulle jou baie swaar laat kry, dan sal jy jou eie kinders eet, jy sal die vleis eet van jou seuns en dogters wat die Here vir jou gegee het.

54. Die man wat ’n sagte hart en mooi maniere het, sal ook wreed wees teen sy broer en teen die vrou vir wie hy lief is en teen sy kinders wat nog lewe.

55. Hy sal die vleis van sy kinders eet en hy sal nie vir een van julle ’n stukkie daarvan gee nie, want dit is al wat hy sal hê nadat julle vyande die stede aangeval het van al die kante, en nadat hulle vir julle laat swaarkry het in al die stede.

56. Die vrou wat ’n sagte hart het en wat baie netjies is, die vrou wat nie kaalvoet op die grond wil loop nie, sal ook hard wees teen die man vir wie sy lief is en teen haar kinders.

57. Sy sal die kinders eet wat sy gekry het, en alles wat saam met die kind uit haar gekom het, sy sal dit eet waar niemand anders dit kan sien nie, want dit sal al wees wat sy het nadat julle vyande die stede aangeval het van al die kante en nadat die vyande julle laat swaarkry het in al die stede.

Lees volledige hoofstuk Deuteronomium 28