hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34

Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 28 Bybel vir Almal (ABA)

Seën en straf

1. Moses het gesê: “As julle waarlik gehoorsaam is aan julle God die Here, as julle alles doen wat sy wette sê wat ek vandag vir julle gee, dan sal julle God die Here vir julle die belangrikste volk op die aarde maak.

2. As julle gehoorsaam is aan julle God die Here, dan sal Hy aanhou om julle te seën:

3. Hy sal julle seën in die stad en in die veld.

4. Hy sal julle vrugbaar maak en ook julle grond en julle diere, daar sal baie kalwers en lammers wees.

5. Julle mandjies en julle brood-skottels sal altyd vol kos wees.

6. Die Here sal julle seën oral waar julle gaan.

7. Hy sal julle vyande laat verloor wanneer hulle vir julle aanval. Hulle sal op een pad kom om julle aan te val, maar hulle sal op sewe paaie wegvlug van julle.

8. Die Here sal julle stoorkamers vol laat word, dit sal goed gaan met alles wat julle doen. Julle God die Here sal julle seën in die land wat Hy vir julle gee.

9. As julle doen wat die Here wil hê en as julle lewe soos Hy sê, dan sal Hy vir julle sy gewyde volk maak, Hy het dit belowe.

10. Al die volke op die aarde sal sien dat julle aan die Here behoort, en hulle sal bang wees vir julle.

11. Die Here sal dit baie goed laat gaan met julle. Julle en julle diere en julle grond sal vrugbaar wees in hierdie land, Hy het vir julle voorvaders belowe om die land vir julle te gee.

12. Die Here sal sy stoorkamer oopmaak waar Hy die goeie dinge bêre, en Hy sal vir julle reën gee op die regte tyd sodat dit goed sal gaan met alles wat julle doen. Julle sal geld en goed kan leen vir mense van baie volke, maar julleself sal nie iets moet leen nie.

13. As julle gehoorsaam is aan die wette van julle God die Here en as julle aanhou om te doen wat ek vandag vir julle sê, dan sal die Here sê julle is die kop, nie die stert nie. Julle sal altyd bo wees, nie onder nie.

14. Maar dan moet julle aanhou om alles te doen wat ek vandag vir julle sê, julle moenie ander gode dien nie.

15. “Maar as julle ongehoorsaam is aan julle God die Here en as julle ophou om te doen wat sy wette sê, die wette wat ek vandag vir julle gee, dan sal die Here dit altyd sleg laat gaan met julle.

16. Dit sal sleg gaan in die stad en dit sal sleg gaan in die veld.

17. Julle kosmandjies en julle brood-skottels sal altyd leeg wees.

18. Julle en julle grond sal nie vrugbaar wees nie, daar sal min kalwers en lammers wees.

19. Dit sal sleg gaan met julle oral waar julle gaan.

20. As julle weggaan van die Here en as julle aanhou om slegte dinge te doen, dan sal Hy dit sleg laat gaan met julle. Julle sal nie vrede hê nie, julle sal bang wees. Dit sal aanhou totdat julle almal gesterf het, julle sal gou verdwyn.

21. Die Here sal julle siek maak, julle sal pes kry. Dit sal aanhou totdat julle almal gesterf het in die land waarnatoe julle gaan om dit vir julleself te vat.

22. Die Here sal julle siek maak, julle sal tering en koors kry, julle sal sere kry en opswel. Dit sal baie warm en droog word, daar sal siektes in die koring kom, en dit sal aanhou totdat julle almal gesterf het.

23. Die hemeldak bo julle sal soos ’n brons dak word, en die aarde onder julle sal so hard soos yster word.

24. Die Here sal die reën van julle land soos poeier laat word, daar sal stof uit die lug val totdat julle almal gesterf het.

25. Die Here sal julle laat verloor teen julle vyande. Julle sal op een pad gaan om hulle aan te val, maar julle sal op sewe paaie wegvlug van hulle. Al die lande op die aarde sal bang word wanneer hulle kyk na julle.

26. Die voëls en die wilde diere sal julle lyke vreet, en niemand sal hulle wegjaag nie.

27. Die Here sal julle siek laat word van sere, soos in Egipte. Julle sal swere en aambeie kry, julle vel sal skurf word en jeuk en julle sal nie gesond word nie.

28. Die Here sal julle mal en blind en deurmekaar laat word.

29. Julle sal soos blinde mense wees, in die dag sal julle oral voel waar julle moet loop, soos mense in die donker, maar julle sal nie die regte pad kry nie. Mense sal julle laat swaarkry, hulle sal julle goed steel, en niemand sal julle help nie.

30. Jy sal verloof raak aan ’n vrou, maar ’n ander man sal seks hê met haar. Jy sal ’n huis bou, maar jy sal nie daarin woon nie. Jy sal ’n wingerd plant, maar jy sal nie die druiwe eet nie.

31. Jy sal sien dat iemand jou bees slag en jy sal nie van die vleis eet nie. Jy sal sien dat iemand jou donkie vat en jy sal nie die donkie terugkry nie. Jou vyande sal jou skape en bokke vat, en niemand sal jou help nie.

32. Jy sal sien dat ander mense jou kinders vat, jy sal elke dag na hulle verlang, maar jy sal niks kan doen nie.

33. Mense wat jy nie ken nie, sal alles eet wat jy geplant het en wat jy oes, alles waarvoor jy gewerk het. Hulle sal aanhou om jou te laat swaarkry en om jou te verdruk.

34. Jy sal mal word van alles wat jy sien.

35. Die Here sal jou siek maak, jy sal lelike sere op jou knieë en op jou bene kry. Jy sal nie gesond word nie, van jou voete tot by jou kop.

36. Jy het ’n koning gekies en aangestel. Die Here sal jou en daardie koning stuur na ’n volk toe wat jy nie geken het nie, jy en jou voorvaders het hulle nie geken nie. En daar sal jy ander gode dien, gode van hout en klip.

37. Die Here sal jou na ander volke toe neem, en al daardie volke sal skrik wanneer hulle jou sien, hulle sal praat oor jou en hulle sal jou spot.

38. Jy sal baie saad na die land neem om te saai, maar jy sal min saad op die land bymekaarmaak wanneer jy die koring of die gars afsny, want die sprinkane sal alles opvreet.

39. Jy sal wingerde plant en jy sal in hulle werk, maar jy sal nie druiwetrosse afsny of wyn drink nie, want die wurms sal dit opvreet.

40. Jy sal olyfbome oral in jou land hê, maar jy sal nie olyf-olie hê om aan jou te smeer nie, want die olywe sal afval.

41. Jy sal kinders kry, maar hulle sal nie aan jou behoort nie, want vyande sal hulle vang en wegvat.

42. Die sprinkane sal al jou bome en alles verwoes wat op jou land groei.

43. Die vreemdelinge by jou sal belangriker word as jy.

44. Hulle sal vir jou geld en goed kan leen, maar jy sal vir hulle niks kan leen nie. Hulle sal die kop wees en jy sal die stert wees.

45. Al hierdie slegte dinge sal met julle gebeur, en die slegte dinge sal aanhou totdat julle almal gesterf het. Hoekom? Omdat julle nie gehoorsaam was aan julle God die Here nie, en omdat julle nie gedoen het wat die wette sê wat Hy vir julle gegee het nie.

46. Hierdie dinge sal vir julle en julle nageslag tekens wees vir altyd.

47. Voorheen het jy baie dinge gekry, maar toe was jy nie bly nie en jy het dit nie geniet om die Here te dien nie.

48. Daarom sal jy jou vyande dien, die Here sal hulle na jou toe stuur. Jy sal hulle dien terwyl jy honger en dors is, jy sal kaal wees en jy sal niks hê nie. Die Here sal ’n yster-juk op jou nek sit totdat Hy jou laat sterf.

49. Die Here sal ’n ander volk bring om oorlog te maak teen jou, ’n volk van ’n land wat baie ver weg is van jou. Die vyand sal op jou afkom soos ’n arend uit die lug. Jy sal nie hulle taal ken nie,

50. dit sal ’n wrede volk wees, hulle sal nie oumense respekteer nie en hulle sal ook nie jammer wees vir jongmense nie.

51. Daardie volk sal jou kalwers en lammers, jou koring en vrugte op-eet. Hulle sal aanhou totdat jy gesterf het. Hulle sal niks koring of wyn of olyf-olie vir jou laat oorbly nie, niks kalwers of lammers nie, hulle sal dit doen totdat jy sterf.

52. Hulle sal jou aanval van al die kante, in al jou stede en oral in die land wat jou God die Here vir jou gegee het. Hulle sal dit doen totdat die hoë en sterk mure omgeval het, die mure wat jy gedink het sal jou beskerm.

53. “Wanneer die vyande jou aanval van al die kante en wanneer hulle jou baie swaar laat kry, dan sal jy jou eie kinders eet, jy sal die vleis eet van jou seuns en dogters wat die Here vir jou gegee het.

54. Die man wat ’n sagte hart en mooi maniere het, sal ook wreed wees teen sy broer en teen die vrou vir wie hy lief is en teen sy kinders wat nog lewe.

55. Hy sal die vleis van sy kinders eet en hy sal nie vir een van julle ’n stukkie daarvan gee nie, want dit is al wat hy sal hê nadat julle vyande die stede aangeval het van al die kante, en nadat hulle vir julle laat swaarkry het in al die stede.

56. Die vrou wat ’n sagte hart het en wat baie netjies is, die vrou wat nie kaalvoet op die grond wil loop nie, sal ook hard wees teen die man vir wie sy lief is en teen haar kinders.

57. Sy sal die kinders eet wat sy gekry het, en alles wat saam met die kind uit haar gekom het, sy sal dit eet waar niemand anders dit kan sien nie, want dit sal al wees wat sy het nadat julle vyande die stede aangeval het van al die kante en nadat die vyande julle laat swaarkry het in al die stede.

58. “Julle moet doen wat al die wette in hierdie boek sê, en julle moet julle God die Here respekteer, almal moet Hom respekteer en bang wees vir Hom. As julle dit nie doen nie,

59. dan sal die Here julle en julle nageslag baie siek laat word, julle sal baie siek wees en julle sal aanhou siek wees.

60. Julle was bang vir baie siektes in Egipte, maar Hy sal al hierdie siektes na julle toe bring, en julle sal nie gesond word nie.

61. Hy sal ook die siektes na julle toe bring waaroor nie geskryf is in hierdie wetboek nie. Die Here sal die siektes na julle toe bring totdat julle almal gesterf het.

62. Julle was voorheen so baie soos die sterre in die lug, maar min van julle sal aanhou lewe, want julle was nie gehoorsaam aan julle God die Here nie.

63. Dit was lekker vir die Here om goed te doen aan julle en om julle baie te laat word. Dit sal ook vir Hom lekker wees om julle almal te laat sterf en te laat verdwyn. Hy sal julle wegvat uit die land waarnatoe julle gaan om dit vir julleself te vat.

64. Die Here sal julle na al die kante toe jaag tussen al die ander volke in, van die een kant van die aarde tot die ander kant. Daar sal julle ander gode dien, gode wat julle en julle voorvaders nie geken het nie, gode van hout en klip.

65. Dit sal nie vir jou lekker wees tussen daardie volke nie, jy sal nooit kan rus nie. Die Here sal jou hart laat bewe, jou oë sal elke dag minder sien, en jou gees sal elke dag meer en meer moeg word.

66. Jy sal elke nag en elke dag dink dat jou lewe verby is, jy sal bang wees en jy sal nie weet of jy môre nog sal lewe nie.

67. In die oggend sal jy sê: ‘Ek wens dit was aand,’ en in die aand sal jy sê: ‘Ek wens dit was oggend.’ Jy sal dit doen omdat jy bang is, en omdat jy baie slegte dinge sal sien.

68. Die Here sal julle op skepe terugneem na Egipte. Ek het voorheen gesê julle sal nie weer daardie land sien nie. Julle sal daar probeer om julleself te verkoop aan julle vyande om hulle slawe en slavinne te wees, maar niemand sal vir julle wil koop nie.”