Ou Testament

Nuwe Testament

Daniël 9:20-27 Bybel vir Almal (ABA)

20. Ek het gepraat en gebid. Ek het my sonde en die sonde van my volk Israel bely. Ek het gebid tot my God die Here, ek het gebid vir die gewyde berg van my God.

21. Ek was nog besig om te praat en te bid, toe vlieg Gabriël na my toe. Gabriël is die engel wat ek by die Ulai-rivier gesien het. Hy het laat daardie middag by my gekom.

22. Hy het met my gepraat en vir my geleer om te verstaan wat ek gesien het.Hy het gesê: “Daniël, ek het nou gekom om vir jou te leer om alles te verstaan wat jy gesien het.

23. God hou van jou, en toe jy begin het om te bid, het Hy al klaar gedoen wat jy gevra het. Ek het gekom om vir jou te sê wat God gesê het. Jy moet luister en verstaan wat jy gesien het.

24. God het besluit dat jou volk en die mense van jou stad, die gewyde stad, 70 jaar lank swaar moet kry, want hulle wou nie na God luister nie. In hierdie 70 jaar sal God hulle straf, en dan sal Hy hulle sonde vergewe. Dan sal hulle altyd reg doen aan mekaar. Die dinge wat die profete gesien het en wat hulle gesê het, sal gebeur. Die mense sal die tempel weer bou en hulle sal dit wy.

25. “Daniël, jy moet nou goed verstaan: God het gesê die mense moet terugkom en hulle moet Jerusalem weer bou, maar sewe jaar moet eers verbygaan, dan sal die gesalfde kom, die man wat moet regeer. Die mense sal die stad bou en hulle sal ook die strate maak en slote rondom die stad grawe om die vyande te keer. Die stad se mure sal 62 jaar lank regop staan, maar almal sal daardie tyd baie swaar kry.

26. Wanneer die 62 jaar verby is, dan sal iemand die gesalfde doodmaak, en daar sal niemand wees om ná hom te regeer nie.“’n Ander koning se mense sal kom en hulle sal die stad en die tempel verwoes. Die mense sal soos ’n watervloed wees wat oor die stad vloei. Die oorlog sal aanhou totdat die vyande alles verwoes het. God het besluit dit moet gebeur.

27. Die nuwe koning sal ’n ooreenkoms maak met baie mense. Die ooreenkoms sal wees vir een jaar, maar in die middel van die jaar sal hy sê die priesters mag nie meer offers en presente na die tempel bring nie. Hy sal iets in die tempel sit wat vir God baie kwaad sal maak en wat alles sal verwoes. Maar God het besluit Hy sal die koning wat dit gedoen het, baie swaar straf wanneer dit die regte tyd is.”

Lees volledige hoofstuk Daniël 9