Ou Testament

Nuwe Testament

Daniël 5:17-30 Bybel vir Almal (ABA)

17. Toe het Daniël vir die koning gesê: “Koning, jy kan die presente hou of jy kan dit vir iemand anders gee. Maar ek sal lees wat daar geskryf is en ek sal vir jou sê wat dit beteken.

18. “Nebukadnesar was koning voor jou. Jy weet dat die Hoogste God hom ’n groot en belangrike koning gemaak het.

19. Daarom was die mense van al die volke bang vir Nebukadnesar, want hy kon almal doodmaak wat hy wou doodmaak. Hy kon ook almal laat lewe wat hy wou laat lewe. Hy kon mense belangrik maak of hy kon hulle verneder.

20. Maar Nebukadnesar het hoogmoedig geword, en God het besluit hy sal nie meer koning wees en op ’n koning se troon sit nie. Die mense het hom nie meer gerespekteer nie.

21. Hulle het vir Nebukadnesar weggejaag. Hy het soos ’n dier geword en hy het tussen die wildedonkies gaan woon. Hy moes gras eet soos ’n bees en die dou uit die lug het hom natgemaak. Nebukadnesar het daar gebly totdat hy geweet het dat dit God is wat besluit wie koning sal wees.

22. “Maar, Belsassar, jy het koning geword ná Nebukadnesar. Jy het dit alles geweet, maar jy was hoogmoedig.

23. Jy het gedink jy is belangriker as die Here van die hemel. Jy het saam met jou amptenare, jou vroue en jou byvroue wyn gedrink uit die bekers wat Nebukadnesar weggevat het uit die Here se tempel. En toe het julle die gode van silwer, goud, brons, hout en klip geprys. Dit is gode wat nie kan sien en hoor nie, hulle weet niks. Maar jy wou nie vir God eer nie, die God wat vir jou asem gee en wat besluit wat met jou moet gebeur.

24. Dit is hierdie God wat die hand gestuur het om te skryf.

25. “Dit is die woorde wat op die muur geskryf is: ‘Mene, mene, tekel ufarsin.’

26. Mene beteken: God het gekyk of jy ’n goeie koning is, en Hy het besluit jy sal nie meer koning wees nie.

27. Tekel beteken: God het jou getoets en gesien jy is nie goed om ’n koning te wees nie.

28. Ufarsin beteken: God sal jou land vir ander volke gee, vir die mense van Medië en Persië.”

29. Belsassar het toe gesê hulle moet vir Daniël klere aantrek wat lyk soos ’n koning se klere: pers klere en ’n goue ketting om sy nek. Hulle moet vir almal sê Daniël is nou die derde belangrikste man in die land.

30. Dieselfde nag het mense vir Belsassar, die koning van Babel, vermoor.

Lees volledige hoofstuk Daniël 5