Ou Testament

Nuwe Testament

Daniël 4:17-26 Bybel vir Almal (ABA)

17. Dit het die heilige engele gesê, en dit sal gebeur. Dan sal almal wat lewe, weet dit is God, die Hoogste God, wat besluit wie koning sal wees. Hy kan enige mens kies en hom koning maak, ook die onbelangrikste mens.”

18. “ ‘Dit is die droom wat ek, Nebukadnesar, gehad het, en jy, Beltsassar, moet vir my sê wat die droom beteken. Al die wyse mense in my land kan nie vir my sê wat dit beteken nie, maar jy kan, want dit is die heilige gode wat jou help.’ ”

19. Daniël, wie se ander naam Beltsassar was, het groot geskrik en baie bang geword. Maar die koning het gesê: “Beltsassar, jy moenie skrik oor die droom en oor wat dit beteken nie.”Beltsassar sê toe: “Koning, dit is ’n slegte droom. Ek wens jou vyande het dit gedroom.

20. Jy het ’n boom gesien wat baie hoog en sterk geword het, die boom het aan die hemel geraak. Al die mense op die aarde kon die boom sien.

21. Daar was mooi blare en baie vrugte aan die boom. Dit was kos vir almal. Al die diere kon onder die boom lewe en al die voëls kon in sy takke woon.

22. Koning, die boom is jy. Jy het koning van die hele aarde geword.

23. Jy het ook gesien daar kom ’n heilige engel uit die hemel en die engel sê: ‘Kap af die boom, kap dit stukkend, maar laat die boom se stam in die grond bly. Sit ’n band van yster en brons om die stam en laat dit tussen die gras staan. Die dou uit die lug moet die stam natmaak, en jy, Nebukadnesar, moet sewe jaar lank wilde plante eet soos die diere.’

24. “Koning, dit is wat die Hoogste God besluit het. Dit sal met jou gebeur, dit is wat die droom beteken:

25. Die mense sal jou wegjaag. Jy sal in die veld gaan woon saam met die diere. Jy sal gras eet soos ’n bees, en die dou uit die lug sal jou sewe jaar lank natmaak. Dan sal jy weet dit is die Hoogste God wat besluit wie koning sal wees.

26. Die engel het ook gesê die boom se stam moet bly staan. Dit beteken jy sal weer koning word wanneer jy weet dit is God wat regeer, God in die hemel.

Lees volledige hoofstuk Daniël 4