Ou Testament

Nuwe Testament

2 Samuel 8:1-10 Bybel vir Almal (ABA)

1. Later het Dawid die Filistyne heeltemal oorwin, en hulle was toe te swak om weer die mense van Juda te pla.

2. Dawid het ook die Moabiete oorwin. Hy het hulle in rye langs mekaar op die grond laat lê en hy het die rye met ’n maatlyn gemeet. Hy het twee maal met die maatlyn gemeet en dan het hy die manne laat doodmaak wat daar gelê het. Dan het hy weer een maal met die maatlyn gemeet en hy het die manne laat lewe wat daar gelê het. Die Moabiete moes vir Dawid werk en hulle moes belasting betaal vir hom.

3. Dawid het na die Eufraat-rivier gegaan om sy gedenksteen weer regop te sit. Hy het vir Hadad-Eser, seun van Regob en koning van Soba, oorwin.

4. Dawid het 1 700 manne op perde en 20 000 voetsoldate gevat van Hadad-Eser. Dawid het al die perde se hakskene laat afsny, die perde wat die oorlogkarre getrek het. Hy het net genoeg perde laat oorbly om 100 oorlogkarre te trek.

5. Die Arameërs van Damaskus het gekom om vir koning Hadad-Eser van Soba te help, maar Dawid het hulle oorwin en hy het 20 000 van hulle manne doodgemaak.

6. Dawid het manne by die Arameërs van Damaskus laat bly om wag te staan. Die Arameërs moes vir Dawid werk en hulle moes belasting betaal vir hom. Die Here het vir Dawid gehelp oral waar hy gegaan het.

7. Die amptenare van Hadad-Eser het goue skilde gedra. Dawid het die skilde gevat en hy het dit na Jerusalem gebring.

8. Dawid het baie brons gebring uit Betag en Berotai. Dit was twee stede van Hadad-Eser.

9. Koning Toï van Hamat het gehoor dat Dawid vir Hadad-Eser oorwin het.

10. Daarom het Toï sy seun Joram gestuur om koning Dawid te groet en om hom geluk te wens omdat hy oorlog gemaak het teen Hadad-Eser en hom oorwin het. Daar was voorheen baie maal oorlog tussen Toï en Hadad-Eser. Toï het vir Joram presente gegee om saam te neem vir Dawid, silwer, goud en brons.

Lees volledige hoofstuk 2 Samuel 8