Ou Testament

Nuwe Testament

2 Samuel 6:1-16 Bybel vir Almal (ABA)

1. Dawid het gesê al die belangrike manne in die land Israel moet bymekaarkom.

2. Hy en al die manne het gereedgemaak en hulle het na die stad Baäl in Juda gegaan om die verbondskis daar te gaan haal. Dit is die kis van God, die kis wat sy Naam het, die Naam van die Here wat oor alles regeer. Sy troon is bokant die gerubs.

3. Hulle het die kis van God uit die huis van Abinadab op die heuwel geneem en hulle het dit op ’n nuwe wa gesit. Ussa en Agjo, die seuns van Abinadab, het die beeste gedryf wat die wa getrek het.

4. Agjo het voor die kis geloop.

5. Dawid en al die leiers van Israel het voor die verbondskis gespeel op musiek-instrumente van sipreshout, op liere en harpe en ratels en simbale.

6. Toe hulle by die dorsvloer van Nakon kom, het die beeste amper geval en Ussa het sy hand uitgesteek om die kis van God vas te hou.

7. Dit was ’n fout. Die Here het kwaad geword vir Ussa en Hy het vir Ussa daaroor gestraf. Ussa het daar by die kis van God gesterf.

8. Dawid was baie geskok en ontsteld omdat die Here vir Ussa laat sterf het. Dawid het daardie plek genoem “Peres-Ussa,” en dit is vandag nog die plek se naam.

9. Dawid het daardie dag baie bang geword vir die Here. Dawid het gesê: “Ek kan nie die kis van die Here na my toe laat kom nie.”

10. Daarom het Dawid nie die kis na hom toe laat kom in die Dawidstad nie. Hy het gesê hulle moet die kis bring na die huis van Obed-Edom. Obed-Edom het van die stad Gat gekom.

11. Die kis van die Here het drie maande lank in die huis van Obed-Edom gebly. Die Here het die huisgesin van Obed-Edom geseën en ook alles wat aan hom behoort.

12. Koning Dawid het gehoor dat die Here dit goed laat gaan met die huisgesin van Obed-Edom en met alles wat hy het, omdat die kis van God by hom is. Dawid het toe gegaan en hy het die kis van God uit die huis van Obed-Edom geneem en hy het dit na die Dawidstad gebring. Dawid was baie bly.

13. Die manne wat die kis gedra het, het ses tree geloop, en daarna het Dawid ’n bul en ’n vet jong bees ge-offer. Hy het dit elke maal gedoen wanneer hulle ses tree geloop het.

14. Dawid het wild gedans voor die Here. Hy het ’n linne-skouer-kleed aangehad.

15. Dawid en al die leiers van Israel het die kis van God gebring. Hulle het geskree en hulle het ramshorings geblaas.

16. Toe die kis van die Here in die Dawidstad kom, het Mikal dogter van Saul by die venster uitgekyk en sy het gesien hoe spring en dans koning Dawid voor die Here. Sy het Dawid nie meer gerespekteer nie.

Lees volledige hoofstuk 2 Samuel 6