Ou Testament

Nuwe Testament

2 Samuel 5:12-25 Bybel vir Almal (ABA)

12. Dawid het besef dat die Here vir hom koning oor Israel gemaak het. Hy het besef dat die Here lief is vir sy volk Israel en dat Hy daarom vir Dawid ’n belangrike koning laat word het.

13. Nadat Dawid uit Hebron gekom het, het hy met nog vroue en byvroue in Jerusalem getrou, en hulle het vir Dawid nog seuns en dogters gekry.

14. Hier is die name van die kinders van Dawid wat in Jerusalem gebore is: Sammua, Sobab, Natan, Salomo,

15. Jibgar, Elisua, Nefeg, Jafija,

16. Elisama, Eljada en Elifelet.

17. Die Filistyne het gehoor dat die leiers van Israel vir Dawid koning gemaak het, en al die Filistyne het vir Dawid kom soek. Dawid het dit gehoor en hy het na ’n plek in die berge gegaan waar ’n mens nie maklik kan kom nie.

18. Die Filistyne het gekom tot in Spook-laagte.

19. Dawid het vir die Here gevra: “Moet ek die Filistyne gaan aanval? Sal U my laat wen teen hulle?”Die Here het vir Dawid gesê: “Ja, Ek sal jou laat wen teen die Filistyne, dit is seker.”

20. Dawid het na die stad Baäl-Perasim gegaan en hy het die Filistyne daar oorwin. Hy het gesê: “Die Here het my vyande oorwin en stukkend geslaan soos water alles stukkend breek.”Dit is hoekom hulle daardie plek Baäl-Perasim noem.

21. Die Filistyne het hulle afgode daar gelos, en Dawid en sy manne het dit opgetel.

22. Toe die Filistyne weer in Spook-laagte kom,

23. het Dawid vir die Here gevra wat hy moet doen. Die Here het gesê: “Jy moenie vir hulle van voor aanval nie, jy moet agter-om hulle gaan en jy moet hulle aanval by die melkbosse.

24. Jy sal in die boonste punte van die melkbosse iets hoor, jy sal dink jy hoor dat mense daar loop. Wanneer jy dit hoor, dan moet jy die Filistyne aanval, want dit is Ek wat voor jou gaan om die Filistyne te oorwin.”

25. Dawid het gedoen wat die Here gesê het, en hy het die Filistyne oorwin, van die stad Geba tot waar ’n mens by die stad Geser kom.

Lees volledige hoofstuk 2 Samuel 5