Ou Testament

Nuwe Testament

2 Samuel 20:2-7 Bybel vir Almal (ABA)

2. Al die manne van Israel het toe weggegaan van Dawid en hulle het saam met Seba seun van Bikri gegaan. Maar die manne van Juda het by hulle koning gebly, van die Jordaan-rivier tot in Jerusalem.

3. Koning Dawid het voorheen tien byvroue in Jerusalem laat bly om die paleis op te pas. Toe hy nou by sy paleis kom, het hy die byvroue apart in ’n huis laat bly, en hy het hulle daar laat oppas. Hy het aangehou om vir hulle te sorg, maar hy het nie by hulle geslaap nie. Hulle het gebly in ’n huis wat toegesluit was en hulle het soos weduwees gelewe totdat hulle gesterf het.

4. Die koning het vir Amasa gesê: “Jy moet sê al die manne van Juda moet bymekaarkom. Ek sal drie dae wag, dan moet almal hier wees, en dan moet jy ook hier wees.”

5. Amasa het gegaan om die manne van Juda bymekaar te maak, maar hy het ná drie dae nog nie teruggekom nie.

6. Dawid het toe vir Abisai gesê: “Seba seun van Bikri sal nou vir ons meer probleme gee as Absalom. Jý moet party van my manne neem en julle moet vir Seba volg en jaag. Hy moenie in een van die stede kom wat sterk mure het nie, want daar sal ons hom nie kan sien nie.”

7. Joab en sy manne het saam met Abisai gegaan, en ook die manne wat die koning moes oppas en al die manne wat goed oorlog kon maak. Hulle het uit Jerusalem gegaan om vir Seba seun van Bikri te volg en te jaag.

Lees volledige hoofstuk 2 Samuel 20