Ou Testament

Nuwe Testament

2 Samuel 19:9-24 Bybel vir Almal (ABA)

9. Al die mense van die Israel-stamme het met mekaar begin praat. Hulle het gesê: “Die koning het ons gered van ons vyande, hy het ons vrygemaak van die Filistyne, en nou het hy uit die land gevlug oor Absalom.

10. Ons het vir Absalom gesalf om oor ons te regeer, maar Absalom het gesterf in die oorlog. En nou, hoekom doen julle niks om die koning te laat terugkom nie?”

11. Maar koning Dawid het ’n boodskap gestuur vir die priesters Sadok en Abjatar. Hy het vir hulle laat weet: “Julle moet praat met die leiers van Juda en julle moet vir hulle sê: Die koning en sy huisgesin het gehoor wat die Israel-mense praat. Hoekom wil julle die laaste mense wees wat die koning wil laat terugkom na sy huis?

12. Julle is my eie familie, hoekom is julle die laaste mense wat die koning wil laat terugkom?

13. En julle moet vir Amasa sê: Ek en jy is familie, ek bid dat God my sal help sodat jy altyd die hoof van die leër sal wees. Joab sal nie weer die hoof van die leër wees nie.”

14. So het Dawid gepraat totdat al die manne van Juda besluit het dat hy weer hulle koning moet wees. En hulle het vir die koning laat weet: “Jy moet terugkom, jy en al jou manne.”

15. Die koning het teruggegaan en hy het by die Jordaan-rivier aangekom. Die mense van Juda het na die stad Gilgal gekom om die koning te ontmoet en om hom oor die rivier te help.

16. Simeï seun van Gera, die man van die stad Bagurim in die land Benjamin, het vinnig gekom en hy het saam met manne van Juda gegaan om koning Dawid te ontmoet.

17. Daar was 1 000 manne van die Benjamin-stam by hom. Siba wat vir die familie van Saul gewerk het en sy 15 seuns en 20 slawe was ook by hom. Hulle was vóór die koning by die Jordaan-rivier.

18. Hulle het deur die rivier gegaan om die huisgesin van die koning deur die rivier te bring en om te doen wat hy wil hê. Toe die koning deur die Jordaan-rivier gekom het, het Simeï seun van Gera voor hom kom lê

19. en hy het vir die koning gesê: “Meneer moet my asseblief nie straf oor die verkeerde ding wat ek gedoen het toe Meneer die koning uit Jerusalem moes gaan nie. Meneer moenie daaraan dink en kwaad bly vir my nie.

20. Ek weet ek het sonde gedoen, en daarom het ek vandag eerste afgekom om die koning te ontmoet. Ek was voor die Josef-stamme hier.”

21. Abisai seun van Seruja het gesê: “Simeï moet sterf, want hy het die gesalfde van die Here vervloek.”

22. Maar Dawid het gesê: “Seuns van Seruja, hoekom sê julle dit vir my? Wil julle my vandag verkeerd laat doen? Ons maak vandag niemand dood in die land Israel nie, want ek weet ek is vandag koning van Israel.”

23. Die koning het vir Simeï gesê: “Jy sal nie sterf nie.”Die koning het dit belowe en hy het gesê die Here is getuie.

24. Mefiboset kleinseun van Saul het ook vir Dawid kom ontmoet. Vandat die koning weg is totdat hy veilig teruggekom het, het Mefiboset nie sy voete gewas of sy baard geknip of sy klere gewas nie.

Lees volledige hoofstuk 2 Samuel 19