Ou Testament

Nuwe Testament

2 Samuel 19:1-16 Bybel vir Almal (ABA)

1. Iemand het vir Joab gaan vertel: “Weet jy, die koning huil en treur oor Absalom.”

2. Die manne het die oorlog gewen, maar daardie dag moes hulle almal begin huil en treur, want hulle het gehoor dat die koning hartseer is oor sy seun.

3. Die manne het daardie dag stil teruggekom in die stad. Hulle het gekom soos manne wat verloor het en wat gevlug het uit die oorlog.

4. Die koning het ’n doek oor sy kop gegooi en hy het hard aangehou skree: “My seun Absalom, Absalom, my seun, my seun!”

5. Joab het na die koning toe in die kamer gegaan en hy het vir hom gesê: “Jou manne het vandag jou lewe gered, en die lewens van jou seuns en jou dogters, jou vroue en jou byvroue, maar jy verneder hulle.

6. Jy is lief vir die mense wat jou haat en jy haat die mense wat lief is vir jou, want jy wys dat jy dink jou offisiere en manne is nie belangrik nie. Ek weet nou jy sou bly gewees het as Absalom nog gelewe het, en as ons almal dood was.

7. Daarom, jy moet nou opstaan en vriendelik gaan praat met jou manne. Ek belowe jou, en die Here is my getuie, as jy nie uitkom en met hulle praat nie, dan sal niemand vannag hier by jou bly nie. En dan sal dit baie sleg gaan met jou, slegter as wat dit gegaan het vandat jy jonk was tot nou toe.”

8. Die koning het toe opgestaan en hy het in die poort gaan sit. Toe die manne hoor dat hy in die poort sit, het hulle almal gekom om hom te sien. Die manne van Israel het gevlug, elkeen na sy huis.

9. Al die mense van die Israel-stamme het met mekaar begin praat. Hulle het gesê: “Die koning het ons gered van ons vyande, hy het ons vrygemaak van die Filistyne, en nou het hy uit die land gevlug oor Absalom.

10. Ons het vir Absalom gesalf om oor ons te regeer, maar Absalom het gesterf in die oorlog. En nou, hoekom doen julle niks om die koning te laat terugkom nie?”

11. Maar koning Dawid het ’n boodskap gestuur vir die priesters Sadok en Abjatar. Hy het vir hulle laat weet: “Julle moet praat met die leiers van Juda en julle moet vir hulle sê: Die koning en sy huisgesin het gehoor wat die Israel-mense praat. Hoekom wil julle die laaste mense wees wat die koning wil laat terugkom na sy huis?

12. Julle is my eie familie, hoekom is julle die laaste mense wat die koning wil laat terugkom?

13. En julle moet vir Amasa sê: Ek en jy is familie, ek bid dat God my sal help sodat jy altyd die hoof van die leër sal wees. Joab sal nie weer die hoof van die leër wees nie.”

14. So het Dawid gepraat totdat al die manne van Juda besluit het dat hy weer hulle koning moet wees. En hulle het vir die koning laat weet: “Jy moet terugkom, jy en al jou manne.”

15. Die koning het teruggegaan en hy het by die Jordaan-rivier aangekom. Die mense van Juda het na die stad Gilgal gekom om die koning te ontmoet en om hom oor die rivier te help.

16. Simeï seun van Gera, die man van die stad Bagurim in die land Benjamin, het vinnig gekom en hy het saam met manne van Juda gegaan om koning Dawid te ontmoet.

Lees volledige hoofstuk 2 Samuel 19