Ou Testament

Nuwe Testament

2 Samuel 10:1-10 Bybel vir Almal (ABA)

1. Die koning van die Ammoniete het gesterf, en sy seun Ganun het koning geword ná hom.

2. Dawid het gedink: Ganun se pa was ’n vriend van my, ek wil ook ’n vriend wees van Ganun seun van Nagas.Dawid het toe amptenare gestuur om vir Ganun te sê dat hy saam met hom hartseer voel omdat sy pa dood is. Maar toe die amptenare van Dawid in die land van die Ammoniete kom,

3. het die leiers van die Ammoniete vir hulle koning Ganun gesê: “Wat dink jy, hoekom het hierdie amptenare na ons toe gekom? Dink jy Dawid het jou pa gerespekteer en daarom het hy mense na jou toe gestuur om vir jou te sê dat hy hartseer voel saam met jou? Nee, ons dink hy het sy amptenare na jou toe gestuur net om oral in die stad te kyk en te sien hoe hulle die stad kan aanval en verwoes.”

4. Toe neem Ganun die amptenare van Dawid en hy laat die helfte van elke amptenaar se baard afskeer. Hy het ook hulle klere laat afsny by die heupe, en toe het hy hulle laat gaan.

5. Die manne het baie verneder gevoel. Toe Dawid hoor wat met die manne gebeur het, het hy mense gestuur om hulle te ontmoet en vir hulle te sê dat hulle in Jerigo moet bly totdat hulle baarde weer gegroei het, want die manne het baie verneder gevoel.

6. Die Ammoniete het besef dat Dawid kwaad is vir hulle, en hulle het mense gestuur om soldate te huur om vir hulle te help. Hulle het 20 000 voetsoldate gehuur van die Arameërs van Bet-Regob en van die Arameërs van Soba. Hulle het ook 1 000 manne gehuur van die koning van Maäka en 12 000 manne van die mense van Tob.

7. Toe Dawid dit hoor, het hy vir Joab en al sy manne gestuur, manne wat goed oorlog kon maak.

8. Die Ammoniete het uitgekom en hulle het gereedgestaan voor die poort van hulle stad. Die Arameërs van Soba en Regob en die manne van Tob en Maäka het op ’n ander plek in die veld gestaan.

9. Joab het gesien hy sal op twee plekke oorlog moet maak. Hy het van die beste manne van Israel gekies en hy het hulle laat gereedstaan om teen die Arameërs te veg.

10. Hy het die ander manne vir sy broer Abisai gegee en hy het hulle laat gereedstaan om teen die Ammoniete te veg.

Lees volledige hoofstuk 2 Samuel 10