Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 9:11-24 Bybel vir Almal (ABA)

11. Die koning het die jenewerhout gebruik om tralies te maak in die tempel en in die paleis en ook om liere en harpe te maak vir die mense wat moes sing. Niemand het weer in die land Juda hout gesien wat so mooi is nie.

12. Koning Salomo het vir die koningin van Skeba alles gegee wat sy wou hê, hy het alles gegee wat sy gevra het. Dit was meer as die goed wat sy vir die koning gebring het. Sy en haar amptenare het toe teruggegaan na haar land.

13. Salomo het elke jaar 666 talente goud gekry.

14. Hy het ook nog goud en silwer gekry van die mense wat deur sy land gegaan het, en van die handelaars en van al die konings van Arabië en van die goewerneurs in die land Israel.

15. Koning Salomo het 200 groot skilde laat maak van goudplate. Hulle het 600 sikkels goud vir elke skild gebruik.

16. Hy het ook 300 klein skilde laat maak van goudplate. Hulle het 300 sikkels goud vir elke skild gebruik. Die koning het die skilde in die houthuis gesit.

17. Hy het ook ’n groot troon laat maak van ivoor en hy het dit laat toemaak met skoon goud.

18. Die troon het ses trappe gehad, en ’n voetbank van goud was vas aan die troon. Daar was plekke waar die koning se arms kon rus op altwee kante van die sitplek, en daar was ’n beeld van ’n leeu langs elke kant.

19. Langs altwee kante van die ses trappe het twaalf beelde van leeus gestaan. Daar was nie in ’n ander land so ’n mooi troon nie.

20. Al die bekers waaruit koning Salomo gedrink het, was van goud, en in die houthuis was al die bekers van skoon goud. In die tyd toe Salomo gelewe het, was silwer nie belangrik nie.

21. Die koning se skepe het saam met die manne van Hiram na die land Tarsis gegaan. Die skepe het elke drie jaar goud en silwer, ivoor, ape en bobbejane gebring.

22. Koning Salomo het ryker geword as al die konings van die aarde en hy het meer wysheid gehad as hulle.

23. Al die konings van die aarde het gekom om vir Salomo te sien en om te luister na sy wysheid, die wysheid wat God vir hom gegee het.

24. Die mense het almal presente saamgebring. Dit was silwergoed of goue goed of klere of wapens of speserye of perde of muile. Dit het elke jaar gebeur.

Lees volledige hoofstuk 2 Kronieke 9