Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 2:1-12 Bybel vir Almal (ABA)

1. Salomo het besluit om ’n tempel te bou waar hulle die Naam van die Here kan eer, en ook ’n paleis vir homself.

2. Hy het besluit dat 70 000 mans die hout moet dra en dat 80 000 mans die klippe in die berge moes kap. Daar moes ook 3 600 hoofde wees. Hulle moes kyk dat die werkers hulle werk doen.

3. Salomo het vir koning Hiram van Tirus ’n boodskap gestuur. Hy het gesê: “Jy het vir my pa Dawid sederhout gestuur sodat hy vir hom ’n paleis kon bou om in te woon.

4. Nou wil ek ’n tempel bou om die Naam van my God die Here te eer. Ek wil die tempel aan Hom wy sodat ons daar wierook kan brand voor Hom, en sodat ons altyd offer-brood op sy tafel kan sit, en sodat ons brand-offers kan bring in die oggend en in die aand, op die Sabbatdae, die Nuwemaan-feeste en die ander feeste vir ons God die Here. Dit is dinge wat die volk Israel altyd moet doen.

5. Die gebou wat ek wil bou, moet groot wees, want ons God is groter as ander gode.

6. Niemand kan regtig vir Hom ’n huis bou nie, want daar is nie genoeg plek vir Hom nie, ook nie in die hoogste hemel nie. Ek kan net vir Hom ’n tempel bou sodat ons daar vir Hom offers kan bring.

7. Nou vra ek dat jy vir my iemand moet stuur wat vaardig is om te werk met goud en silwer en brons en yster en met pers wol, rooi wol en blou wol. Dit moet iemand wees wat ook weet hoe om letters en prente op klip uit te sny. Hy moet die werk doen saam met die slim manne hier by my in Juda en Jerusalem. My pa het hierdie manne bymekaargemaak.

8. Jy moet ook vir my sederhout, sipreshout en jenewerhout van die Libanon-berg stuur, want ek weet jou werkers weet hoe om Libanon-bome te kap. My werkers sal saam met jou werkers werk.

9. Hulle moet vir my baie sederhout gereedmaak, want die tempel wat ek wil bou, moet groot en wonderlik mooi wees.

10. Dit is wat ek sal betaal vir jou werkers wat die hout kap: 20 000 kor koring, 20 000 kor gars, 20 000 bat wyn en 20 000 bat olyf-olie.”

11. Koning Hiram van Tirus het vir Salomo in ’n brief geantwoord. Hy het geskryf: “Die Here is lief vir sy volk. Daarom het Hy jou koning laat word oor hulle.”

12. Hiram het ook geskryf: “Ek prys die Here, die God van Israel, Hy wat die hemel en die aarde gemaak het. Hy het vir koning Dawid ’n wyse seun gegee, ’n man wat weet wat hy moet doen en wat slim en verstandig is, sodat hy vir die Here ’n tempel kan bou en ook ’n paleis vir homself.

Lees volledige hoofstuk 2 Kronieke 2