Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 6:24-32 Bybel vir Almal (ABA)

24. Later het koning Ben-Hadad van Aram al sy manne laat bymekaarkom en hulle het hulle tente rondom die stad Samaria opgeslaan.

25. Hulle het daar gebly, en die kos in Samaria het baie min geword. Die kos het later baie duur geword, ’n donkie se kop het 80 sikkels gekos en ’n klein bietjie duiwemis het vyf sikkels gekos.

26. Toe die koning van Israel eendag op die muur van die stad verbyloop, het ’n vrou vir hom geskree: “Meneer die koning, jy moet my help!”

27. Die koning het geantwoord: “Die Here sal jou moet help. Ek het niks wat ek vir jou kan gee nie, nie koring of wyn of olyf-olie nie.”

28. Die koning vra toe vir die vrou: “Maar wat is jou probleem?”En sy het gesê: “Hierdie vrou het vir my gesê ek moet my seun gee sodat ons hom vandag kan eet, dan eet ons môre haar seun.

29. Ons het toe my seun gekook en ons het hom geëet, en toe ek die volgende dag vir haar sê sy moet haar seun bring sodat ons hom kan eet, het sy haar seun weggesteek.”

30. Toe die koning hoor wat die vrou sê, het hy sy klere geskeur en rouklere aangetrek. Hy het op die muur geloop, en die mense kon sien dat hy rouklere aangehad het onder sy ander klere.

31. Die koning het gesê: “Vandag sal ek die kop van Elisa seun van Safat laat afkap. God moet my straf as ek dit nie doen nie.”Die koning het iemand gestuur om Elisa se kop af te kap.

32. Elisa was in sy huis, en die leiers het by hom gesit. Maar voordat die man wat die koning gestuur het, daar gekom het, het Elisa vir die leiers gesê: “Weet julle dat hierdie moordenaar, die koning van Israel, iemand gestuur het om my kop af te kap? Julle moet kyk, en wanneer die persoon kom, dan moet julle die deur sluit en hom buite hou. Ek hoor sy koning kom saam met hom.”

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 6