Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 24:5-16 Bybel vir Almal (ABA)

5. Al die ander dinge wat Jojakim gedoen het, is geskryf in die dagboeke van die konings van Juda.

6. Jojakim het gesterf, en sy seun Jojagin het koning geword ná hom.

7. Die koning van Egipte kon nie weer uit sy land kom nie, want die koning van Babel het al die lande gevat wat aan die koning van Egipte behoort het, alles van Egipte-spruit tot by die Eufraat-rivier.

8. Jojagin was 18 jaar oud toe hy koning geword het, en hy was drie maande lank koning in Jerusalem. Sy ma was Negusta dogter van Elnatan, van Jerusalem.

9. Jojagin het dinge gedoen waarvan die Here nie hou nie, hy het gedoen soos party van sy voorvaders.

10. In die tyd toe Jojagin koning was, het die soldate van koning Nebukadnesar van Babel na Jerusalem gekom en hulle het die stad van al die kante aangeval.

11. Nebukadnesar het self ook na die stad gekom terwyl sy soldate die stad aangeval het.

12. Koning Jojagin van Juda het toe uitgegaan na die koning van Babel toe, hy en sy ma en sy offisiere en sy amptenare en sy paleisbediendes. Die koning van Babel was ag jaar lank koning toe hy vir Jojagin gevang het.

13. Die koning van Babel het al die kosbare goed in die tempel en in die paleis gevat. Hy het al die goue goed stukkend laat slaan wat Salomo, koning van Israel, vir die tempel laat maak het. Dit het gebeur soos die Here gesê het.

14. Die koning van Babel het al die mense van Jerusalem, al die amptenare en die belangrike mense, gevang en weggevat. Daar was 10 000 gevangenes. Al die ambagsmanne en smede was ook by die gevangenes. Die koning van Babel het niemand laat oorbly nie, hy het net die armste mense van die land laat bly.

15. Hy het vir Jojagin gevang en weggevat na Babel, en ook die koning se ma en sy vroue en sy paleisbediendes, en die belangrikste mense van die land.

16. Die koning van Babel het 7 000 van die rykste mense weggevat, en 1 000 ambagsmanne en smede. Hulle was belangrike manne en hulle kon almal oorlog maak. Hulle het gevangenes geword en die koning van Babel het hulle weggevat.

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 24