Ou Testament

Nuwe Testament

2 Konings 23:25-37 Bybel vir Almal (ABA)

25. Daar was nie nog so ’n koning wat sy lewe so heeltemal verander het nie. Josia het gedoen wat die Here wil hê, soos die Wette van Moses sê. Daar was nie so ’n koning vóór die tyd van Josia of ná sy tyd nie.

26. Maar die Here het kwaad gebly vir die mense van Juda. Die Here was kwaad oor alles wat Manasse gedoen het.

27. Die Here het gesê: “Ek sal die mense van Juda ook wegvat voor My soos Ek die mense van Israel weggevat het. Ek het hierdie stad Jerusalem gekies, en Ek het gesê Ek sal self in hierdie tempel woon. Maar Ek sal nou hierdie stad en hierdie tempel los.”

28. Al die ander dinge wat Josia gedoen het, is geskryf in die dagboeke van die konings van Juda.

29. In die tyd toe Josia koning was, wou Neko, koning van Egipte, vir die koning van Assirië gaan aanval by die Eufraat-rivier. Josia het toe gegaan om vir Neko te stop. Die farao het vir Josia doodgemaak toe hulle mekaar by Megiddo sien.

30. Josia se offisiere het sy liggaam op ’n oorlogkar uit Megiddo gebring en hulle het dit na Jerusalem geneem. Sy mense het hom in sy graf begrawe. Die mense van die land het vir Joahas seun van Josia geneem en hulle het hom gesalf en hom koning gemaak in sy pa se plek.

31. Joahas was 23 jaar oud toe hy koning geword het, en hy was drie maande lank koning in Jerusalem. Sy ma was Gamutal dogter van Jeremia, van die stad Libna.

32. Joahas het dinge gedoen waarvan die Here nie hou nie, hy het gedoen soos party van sy voorvaders.

33. Die farao Neko het vir Joahas gevang en hy het vir Joahas in Ribla in die land Hamat gehou, sodat Joahas nie koning kon wees in Jerusalem nie. Die farao het gesê die land Juda moet vir hom 100 talente silwer en een talent goud betaal.

34. Die farao Neko het vir Eljakim seun van Josia koning gemaak ná Josia. Hy het Eljakim se naam verander, hy het vir hom die naam Jojakim gegee. Die farao het vir Joahas na Egipte geneem en Joahas het daar gesterf.

35. Jojakim moes die silwer en die goud vir die farao betaal, en hy het gesê elke persoon in die land moet iets gee sodat hy dit kan betaal.

36. Jojakim was 25 jaar oud toe hy koning geword het, en hy was elf jaar lank koning in Jerusalem. Sy ma was Sebida, dogter van Pedaja, van die stad Ruma.

37. Jojakim het dinge gedoen waarvan die Here nie hou nie, hy het gedoen soos party van sy voorvaders.

Lees volledige hoofstuk 2 Konings 23